Micky Hoyle

Micky Hoyle

Gebak

Karringmelk-plaatkoekies

’n Stapel plaatkoekies is altyd lekker vir ontbyt.
Sowat 17 plaatkoekies

• 275 g (490 ml) koekmeel
• 10 ml bakpoeier
• knippie sout
• 25 g (30 ml) suiker
• 440 ml karringmelk
• 1 eier
• 15 ml sonneblomolie
• sowat 60 ml gesmelte botter om plaatkoekies in te braai

Sif meel, bakpoeier en sout saam in ’n mengbak. Voeg suiker by. Klits karringmelk, eier en olie saam in ’n bakkie. Maak holte in middel van droë bestanddele. Gooi geklitste karringmelkmengsel in holte en meng tot gladde beslag. Maak toe met afdrooglap en laat staan 30 minute. Verhit ’n kleefvrye pan en smeer met ’n kwassie ’n bietjie van die gesmelte botter in die pan. Skep ’n eetlepel vol beslag in die pan. Wanneer borreltjies aan die bokant van die plaatkoekie vorm, draai dit om. Braai nog so 2 minute tot gaar. Jy kan 3 – 4 op ’n slag bak. Hou gaar plaatkoekies warm en herhaal proses met res van beslag. Sit warm voor met botter en heuning of stroop.