Foto deur Micky Hoyle

SARIE KOS DES 2012/JAN 2013

Foto deur Micky Hoyle SARIE KOS DES 2012/JAN 2013

Gebak

Kasjoeneuttertjies met pistasieneut-mascarpone-kaas

Dis soos ʼn neutefees – tertjies met kasjoeneute en fyngekapte pistasieneut wat met mascarpone-kaas gemeng word.
Baktyd: sowat 30 minute

Deeg

  • 200 g (360 ml) koekmeel
  • 110 g (110 ml) botter, in blokkies gesny
  • 30 ml strooisuiker
  • 45 ml koue water

Verhit oond tot 180 °C. Plaas meel en botter in voedselverwerker en meng tot dit soos broodkrummels lyk. Voeg strooisuiker by en meng weer. Voeg water by en meng tot deeg vorm. Haal uit en maak toe met kleefplastiek. Plaas in yskas vir sowat 30 minute. Rol deeg uit op meelbestrooide oppervlak. Voer ses gesmeerde losboomquiche- pannetjies van sowat 10 cm uit met deeg. Plaas ’n stuk bakpapier in elke tertjie en vul met droë bone. Plaas pannetjies op ’n bakplaat. Sit in oond en bak sowat 10 minute. Haal uit en verwyder papier en bone. Vul met die volgende vulsel.

Vulsel

  • 120 g (127 ml) botter
  • 120 g (140 ml) strooisuiker
  • 3 eiergele
  • 60 g (110 ml) koekmeel
  • 200 g kasjoeneute (sien bl. 36)
  • 15 ml strooisuiker

Room botter en suiker tot glad en romerig in voedselverwerker. Klits eiergele een vir een by. Voeg koekmeel by en meng goed. Kap helfte van neute fyn en voeg by meelmengsel in voedselverwerker. Verdeel vulsel tussen pannetjies. Verdeel res van heel neute bo-op tertjies en sprinkel met klein bietjie strooisuiker. Plaas terug in oond en bak verder vir nog sowat 20 minute tot vulsel gestol is. Sit warm voor saam met pere en pistasieneutmascarpone- kaas.

Wenk
As jy nie van kasjoeneute hou nie, kan jy dit met amandels vervang.

Pistasieneut-mascarpone-kaas

  • 250 g mascarpone-kaas
  • 50 g pistasieneute, fyngekap

Meng bestanddele goed en hou in yskas tot benodig.