Kersfees Koskas - en 'n laste-minuut-vrugtekoek
Gebak

Laaste-minuut-vrugtekoek in jou Kersfees-koskas

Het jy vergeet om vroeg Oktober jou vrugtekoek te bak? Hier is een wat jy net ‘n dag vooraf kan maak! Plus – alles wat jy solank vir jou koskas moet koop vir die feestyd.

Voor jy jou oë uitvee, is Kersfees hier, so stof daardie resepte af en pak solank die koskas reg!

Liezl se resep

Almal weet Kersfees is nie dieselfde sonder vrugtekoek nie. As jy, soos ek, nie kans gehad het om twee maande gelede te begin bak aan jóú Kerskoek nie, kan jy hierdie resep volg – dít kan net 1 dag vooraf gemaak word!

Laaste-minuut-vrugtekoek

Kersfees Koskas - en 'n laste-minuut-vrugtekoek Bestanddele

  • 1 sjokoladekoekmengsel
  • 250 ml gemmer-brandewyn
  • 5 ml naeltjies
  • 5 ml neutmuskaat
  • 10 ml kaneel
  • 2 ml gemmer
  • 100 g neute (van jou keuse), gekap
  • 100 g glanskersies, gekap
  • 100 g bosbessies (cranberries)

Sous

  • 125 ml kookwater
  • 60 ml strooisuiker
  • 125 ml gemmer-brandewyn

Meng sjokoladekoekmengsel soos op verpakking aangedui. Vervang 250 ml vloeistof (soos op verpakking aangedui) met die gemmer-brandewyn. Meng goed. Voeg nou speserye, neute en vrugte by. Vir individuele klein koekies, bak 15 – 20 minute. Vir ’n groot koek, bak 35 – 40 minute.

Laat koek afkoel en bêre oornag in ’n lugdigte houer.

Vir die sous, meng alle bestanddele saam en roer tot suiker opgelos is. Gooi die sous die volgende oggend oor die koek om te verseker dat dit klam bly.

Sif versiersuiker oor koek net voordat jy dit voorsit.

Laaste-minuut-vrugtekoek

Liezl se onthou-dinge

Moenie onkant gevang word hierdie feestyd nie. Hou hierdie paar moet-hê-items in jou koskas sodat jy nie op nommer 99 na oorvol winkels hoef te hardloop nie.

Kersfees Koskas

  • Neute – ’n Pakkie gemengde neute of okkerneute kan gebêre word vir ’n spesery-neut-drankie of vir versiering op soetgoed soos koek of koekstruif (trifle).
  • Speserye – Dalk is die heel belangrikste om ’n arsenaal van speserye gereed te hê – kaneel, neutmuskaat, gemmer en wonderpeper (allspice). Gebruik dié speserye saam met gebakte items, dit smaak nie net heerlik nie, maar laat jou huis ook soos Kersfees ruik!
  • Vrugtekoekmengsel – Klein pakkies gedroogde vrugte of sommer ’n emmertjie van die supermark. Dié mengsels is noodsaaklik vir ’n fruit mince pie of vrugtekoek. Spring vinnig, dit verkoop gou uit!
  • Versiersuiker – Sif versiersuiker oor jou gebakte items, dit lyk soos sneeu en gee dit ’n Europese gevoel.
  • Gemmerkoekies – Jy kan nooit genoeg gemmerkoekies oor die Kerstyd hê nie! Koop ’n boksie Moir’s-gemmerkoekies sodat jy nie onverhoeds daarsonder betrap word nie!

Ek hoop die Kersfees-gogga byt jou gou, dit is immers die lekkerste tyd van die jaar!

Klits-en-Klets Kok

Liezl

Klits-en-Klets Kok Volg my ook nou hier en kook saam:

Twitter: @KlitsenKletsKok

Facebook: Klits en Klets Kok

Instagram: klitsenkletskok