kerskoek-huisie

FOTO Lee Malan

Gebak

Kerskoekie-huis

Kry die kinders in die kombuis en bak lebkuchen, die tradisionele Duitse Kerskoekie met sy delikate speserygeur. Versier dit met mooi patrone en bou saam ’n sprokieshuis!

Koek

• 360 g (360 ml) heuning
• 740 g (925 ml) sagte bruinsuiker
• 200 g (220 ml) ongesoute botter
• 4 eiers, geklits
• 60 ml suurlemoensap
• skil van 1 suurlemoen
• 20 ml gemengde speserye
• 10 ml fyn gemmer
• 1,5 kg (2 680 ml) bruismeel

Versiersel

• 130 g (250 ml) versiersuiker
• 1 eierwit
• sap van 1 suurlemoen
• 200 g (250 ml) witsuiker
• 80 ml water

Bak so

Verhit oond tot 180 °C. Smelt heuning, suiker en botter. Verwyder pot van plaat en laat afkoel. Klits eier, sap en skil saam. Meng droë bestanddele in mengbak, voeg eiermengsel by en meng deur. Gooi genoeg van die heuningmengsel by vir ’n sagte koekiedeeg. Laat rus in yskas vir 20 minute. Verdeel deeg in 6 ewe groot dele. Plaas 6 velle bakpapier op werkvlak en bestrooi met koekmeel. Rol elke stuk tot 5 mm dik uit op bakpapier. Sny twee van elke paneel (kry die patroon hier) uit die deegstukke. Trek die velle papier met deeg tot op ’n bakplaat en bak vir 10 – 15 minute of tot goudbruin. Herhaal tot al die panele van die huisie gebak is en laat afkoel.

1. Sif versiersuiker twee keer in groot mengbak. Voeg eierwit en suurlemoensap by. Meng goed tot stywe versiersel – dit moet sagte punte vorm wanneer jy dit skep.

stap 1

Stap 1

 

2. Skep versiersel in spuitsak met 1 mm-tuit. Spuit na willekeur patrone op die panele – jy kan ook lekkergoed en ander koekversiersels op die panele plak soos jy verkies. Laat staan vir 1 uur sodat die versiersel droog word.

stap 2

Stap 2

3. Plaas suiker en water in pot en bring tot kookpunt. Laat kook tot goue karamelstroop vorm. Moenie roer nie. Verwyder van hitte en werk baie versigtig. Doop die kante van die twee sypanele in die warm karamel en plak dit vas aan die ooreenstemmende kante van die voorste paneel. Herhaal met die agterste paneel.

Stap 3

Stap 3

4. Skep ’n klein bietjie warm karamel op die bo-rande waarop een dakpaneel moet rus. Plaas dakpaneel bo-op en hou vas tot hard. Herhaal met ander kant. Laat staan 10 minute. Plaas versigtig op houtbord en sif versiersuiker oor.

 

Stap 4

Stap 4