FOTO Donna Lewis SARIE KOS DES 2012/JAN 2013

Gebak

Klapper-en-vanieljetertjies

Klapperroom wat yskoud gemaak is in yskas, klop styf soos room. Ek maak hierdie kors gereeld. Dis maklik en vinnig. Hou sommer klaargebakte, ongevulde korse in ʼn lugdigte houer tot jy nodig kry.

(genoeg vir 12)

• 250 g fyn klapper
• 2 eierwitte
• 50 ml kanola-olie
• 80 ml strooisuiker

Vulsel

• 1 blik klapperroom, oornag in yskas gelaat tot yskoud.
• 1 vanieljepeul se saadjies of 5 ml vanieljegeursel
• 45 ml heuning
• 2 perskes, in dun skywe gesny

Verhit oond tot 180 °C. Plaas klapper, eierwitte, olie en strooisuiker in middelslag-mengbak. Meng met houtlepel tot tekstuur van klam seesand. Spuit 12 holtes van standaard-muffinpan met kleefwerende kossproei. Skep lepelsvol van die mengsel in elke holte en gebruik vingerpunte om die hele holte uit te voer. Plaas in warm oond en bak 10 – 12 minute of tot goudbruin. Laat afkoel in vorm en haal versigtig uit.

Vulsel

Skep boonste laag dik klapperroom uit blik tot net voor die helder vloeistof onderin. (Jy kan dié klapperwater yskoud drink as jy wil, maar andersins gooi weg. Dis baie min.) Plaas in mengbak en klits op hoë spoed tot stywe punte vorm. Voeg vanieljesaadjies en heuning by. Klits goed. Skep lepelsvol van die mengsel in klapperkorse. Pak perskeskywe bo-op en sit voor.

WENK: Onthou om nie die blik met klapperroom voor die tyd te skud nie. Die dik laag room sal dan meng met die water, en dan kan jy dit nie afskep nie.