Foto's deur Micky Hoyle

Gebak

Klapperkoek

(16 STUKKE VAN 10 CM X 8 CM)

  • 400 g (435 ml) botter
  • 240 g (300 ml) suiker
  • 12 eiergele
  • 20 ml vanieljegeursel
  • 480 g (850 ml) koekmeel
  • 40 ml bakpoeier
  • 4 ml sout
  • 400 ml melk

Bo-laag

  • 12 eierwitte
  • 400 g (500 ml) suiker
  • 320 g growwe klapper
  • klappervlokkies om bo-op te strooi

Verhit oond tot 160 °C. Voer ’n plaatpan van 39 x 32 x 4 cm diep uit met bakpapier. Room botter en suiker saam – verkieslik in ’n elektriese menger – tot lig en romerig. Voeg eiergele een vir een by en klits goed ná elke byvoeging. Voeg vanieljegeursel by en klits goed. Moenie bekommerd wees as die mengsel lyk of dit geskif het nie – wanneer die droë bestanddele bygevoeg word, sal dit nie meer só lyk nie. Sif meel, bakpoeier en sout saam en voeg om die beurt met melk by eiermengsel in elektriese menger. Skep koekmengsel in uitgevoerde en gesmeerde pan. Versprei dit eweredig. Maak nou die bo-laag Klits eierwitte tot sagtepuntstadium. Voeg suiker lepel vir lepel by en klits goed ná elke byvoeging. Vou klapper in en smeer op koekmengsel. Sit in oond en bak vir 1 uur. Gebruik ’n dun pennetjie en toets om seker te maak dis gaar. Laat effens afkoel en sny in blokke.