Foto's deur Micky Hoyle

Foto's deur Micky Hoyle

Gebak

Klein tertjies met tamatie, feta en basiliekruid

36 Tertjies – 3 cm-klein muffin-pannetjies

Deeg
• 200 g (360 ml) koekmeel
• 1 ml sout
• 100 g (110 ml) botter
• 45 ml koue water

Sif meel en sout saam in ’n groot mengbak. Sny botter in blokkies en voeg by meel. Vryf botter in meel tot dit soos fyn broodkrummels lyk. Voeg koue water by en vorm ’n deeg. Bedek met kleefplastiek en laat vir 30 minute in die yskas rus. Rol deeg op ’n meelbestrooide oppervlak uit en gebruik ’n koekiedrukker om sirkels te druk. Spuit klein pannetjies en voer uit met deeg.

Vulsel
• 100 g fetakaas
• sowat 15 – 18 klein kersietamaties
• hand vol vars basiliekruid, gesny in dun repe
• 2 eiers
• 250 ml room
• varsgemaalde swartpeper

Verhit oond tot 180 ºC. Krummel fetakaas en vul tertbakkies daarmee. Sny
kersietamaties in skywe. Plaas een stukkie tamatie en ’n bietjie vars basiliekruid
bo-op. Klits eiers en room goed saam en vul bakkies met room-mengsel. Geur
met swartpeper en bak vir 20 – 25 minute. Die tertjies is op hul lekkerste as jy dit koud voorsit.