Foto deur Lee Malan SARIE KOS FEB/MAART 2013

Gebak

Komynbrood

Hier is iets eenvoudigs vir net so eet, roosterbrood of dalk vir toebroodjies.
(genoeg vir 1 groot brood)
baktyd: 30 – 35 minute

  • 1 x basiese deeg
  • 20 ml komynsade
  • ekstra sorghummeel vir uitrol

Verhit oond tot 180 °C. Sprinkel dun lagie sorghummeel op werkoppervlak en keer uitgerysde deeg daarop uit. Druk deeg plat tot sowat 1,5 cm dik. Sprinkel komynsade bo-oor en rol deeg stewig op in lang wors. Rol wors in stewige ronde bal. Sif broodmandjie met rogmeel en plaas deeg in mandjie. (As jy nie so mandjie het nie, kan jy dit ook in ’n ronde koekpan laat rys wat goed gespuit is met kleefwerende kossproei.) Laat rys op ’n warm plek vir sowat 20 – 25 minute of tot dubbel in volume. Spuit bakplaat goed met kleefwerende kossproei en keer gerysde brood versigtig uit mandjie op bakplaat. As jy dit in ’n koekpan laat rys het, kan jy die pan direk in die oond plaas. Bak 30 – 35 minute of tot goudbruin en gaar.

Wenk
Om te toets of ’n brood gaar is, moet dit hol klink as jy liggies onder die brood klop.