Foto deur Mickey Hoyle SARIE KOS OKT/NOV 2013

Gebak

Lamsvleis-samoesas

Dis nie iets wat jy dikwels te koop kry nie, maar vir my as Karookind kan ’n samoesa skaars lekkerder smaak as met ’n lekker lamsvleiskerrie-vulsel.
Vulsel genoeg vir sowat 25

• 30 ml sonneblomolie
• 500 g lamsteaks, in blokke gesny
• 1 ui, fyngekap
• 2 knoffelhuisies, fyngekap
• 10 ml fyn komyn
• 10 ml fyn koljander
• 1,25 ml fyn gemmer
• 1,25 ml fyn kaneel
• 5 ml borrie
• 15 ml garam masala
• 3 tamaties, in blokkies gesny
• 30 ml suurlemoensap
• 250 ml kookwater
• sout en varsgemaalde swartpeper
• ½ pak samoesa-deeg

Verhit oond tot 180 °C. Verhit olie in ’n oondkastrol. Voeg lam by en braai sowat 10 minute tot effe bruin. Gooi ui en knoffel by en braai verder tot ui sag is. Voeg komyn, koljander, gemmer, kaneel, borrie en masala by. Roer goed en braai nog sowat 5 minute. Voeg tamaties, suurlemoensap en kookwater by. Geur met sout en peper. Roer goed. Maak kastrol toe met deksel en plaas in warm oond vir so 1 uur en 15 minute. Haal uit en vlok vleis met ’n vurk in die kastrol. Laat verder oop prut bo-op stoof tot byna al die sous afgekook is. Laat koud word voor jy samoesas vou en diepbraai