Foto deur Mickey Hoyle SARIE KOS FEB/MRT 2014

Foto deur Mickey Hoyle SARIE KOS FEB/MRT 2014

Gebak

Lasagne

In Suid-Afrika is lasagne seker naas pizza die bekendste Italiaanse gereg.
Genoeg vir 8 – 10

Vleissous
Dis belangrik dat hierdie sous minstens 2½ uur moet kook.
• sowat 50 ml olyfolie
• 1,5 g beesmaalvleis
• 1 ui, fyngekap
• 2 knoffelhuisies, fyngekap
• 2 x 410 g-blikke gekapte tamaties
• 520 ml tamatiepuree
• 125 g ham, in blokkies gesny
• 1 wortel, gerasper
• 250 ml rooiwyn
• sout en varsgemaalde swartpeper
• 10 ml droë origanum

Verhit olyfolie in ’n groot kastrol. Voeg maalvleis by en braai tot net gaar en los. Voeg ui en knoffel by en braai nog sowat 10 minute. Voeg res van bestanddele by en geur met sout, peper en origanum. Maak kastrol toe met deksel en laat prut sowat 1 uur. Haal deksel af en prut oop vir nog 1½ uur tot sous lekker dik is. Haal af van hitte en maak die roomsous.

Roomsous
• 140 g (150 ml) botter, in blokkies gesny
• 85 g (150 ml) koekmeel
• 500 ml melk
• 500 ml room
• sout en varsgemaalde swartpeper

Smelt botter in ’n kastrol. Voeg meel by en roer tot goed gemeng en glad. Voeg melk bietjies-bietjies by en roer goed met ’n ballonklitser om te keer dat klonte vorm. Wanneer al die melk bygevoeg is, voeg room ook bietjies-bietjies by terwyl jy dit heeltyd roer. Geur met sout en peper. Hou aan om sous oor lae hitte te roer tot dit verdik – dit moet soos ’n loperige vla lyk. Jy is nou gereed om die lasagne aanmekaar te sit.

Samestelling
• 500 g-pak lasagne-velle
• 100 g parmesaankaas, gerasper
• 2 groot vars basiliekruidblare
• sowat 50 g (55 ml) botter om bo-op te stip

Verhit oond tot 180 °C. Skep van die vleissous onderin ’n oondbraaibak. Plaas een laag lasagne-velle langs mekaar bo-op die vleisous. Skep bietjie roomsous oor en pak nog ’n laag lasagne-velle bo-op. Skep vleisous bo-oor en herhaal die hele proses nog 2 keer. Rond af met laaste laag vleissous. Gooi res van roomsous bo-op en sprinkel kaas oor. Plaas basiliekruidblare bo-op, stip met botter en bak 1 uur in warm oond. Druk ’n dun pennetjie in lasagne om seker te maak die pasta is gaar. Sit voor met ciabattabrood, ekstra parmesaankaas en nog vars basiliekruid.