Foto's deur Micky Hoyle

Gebak

Lekkerste appeltert

(6-8 porsies; tertbord van 26 cm x 5 cm)

Deeg

  • 500 ml koekmeel
  • 2 ml sout
  • 150 g ongesoute botter
  • 35 ml wit margarien
  • 70 ml yswater

Sif die koekmeel en sout saam in ‘n groot mengbak. Sny die botter en margarien in klein blokkies. Voeg dit by die meel en vryf in tot dit soos broodkrummels lyk. Gooi die yswater bietjie-bietjie by tot dit ‘n stywe deeg vorm. Bedek met kleefplastiek en bêre vir minstens 1 uur in die yskas. Rol die deeg op ‘n meelbestrooide oppervlak uit. Voer ‘n tertbord met die deeg uit. Sny ‘n groot genoeg sirkel uit om die appels te bedek en hou eenkant.

Wenk
Jy kan die deeg in ‘n voedselverwerker maak. Volg die resep net so, maar sit die meel en sout saam met die botter en margarien in die voedselverwerker. Gebruik die skerp lem – dit sal die botter en margarien by die meel inwerk.

Vulsel

  • 15 klein Granny Smith-appels
  • gerasperde skil van 1 suurlemoen
  • 150 ml suiker
  • 5 ml fyn kaneel
  • 45 ml botter, in klein blokkies gesny
  • 1 geklitste eier om die deeg mee te smeer
  • 15 ml strooisuiker om oor die deeg te sprinkel

Voorverhit die oond tot 180 °C. Skil die appels en verwyder die pitte. Sny die appels in ½ cm dik skywe, sit in ‘n mengbak en gooi die skil, suiker en kaneel oor. Meng goed. Skep die appelmengsel in die bereide tertbord. Stip met die blokkies botter en sit dan die deegdeksel op. Maak klein snytjies in die deeg vir ventilasie. Smeer die deeg met ‘n bietjie geklitste eier en sprinkel die strooisuiker oor. Bak teen 180 °C vir 45 minute. Sit voor met geklopte room.

Om te drink
Ken Forrester ‘T’ Noble Late Harvest, gemaak van chenin blanc-druiwe. Chenin blanc is bekend vir sy heerlike appelgeure en redelik hoë suurgehalte. Daarom pas dit uitstekend by die appeltert.