Gebak

Maklike appeltertjies

(10 tertjies)

Jy benodig

  • 1 x 500 g-vel blaardeeg
  • 1 eier, geklits
  • 75 g botter
  • 60 ml strooisuiker
  • 50 g amandelvlokkies
  • 5 Granny Smith-appels, geskil
  • 10 x 5 ml strooisuiker
  • fyn kaneel

Druk 10 sirkels van so 10 cm met ‘n koekie-uitdrukker uit die blaardeeg. Voer ‘n bakplaat met bakpapier uit en smeer met gesmelte botter. Sit die sirkels op die plaat en smeer elke sirkel met geklitste eier. Voorverhit die oond tot 180 °C. Sit die botter, strooisuiker en amandelvlokkies in ‘n voedselverwerker. Meng goed tot ‘n gladde pasta. Smeer elke sirkel met die bottersmeer. Halveer die appels en verwyder die pitte. Sny elke halwe appel in dun skywe en pak ‘n hele halwe appel op elke sirkel. Sprinkel nou 5 ml strooisuiker en ‘n bietjie fyn kaneel oor elke sirkel. Sit die tertjies in die oond en bak vir 20 – 30 minute tot die appels sag is.

Wenk
Jy kan die tertjies warm of koud voorsit. Jy kan ook Star King-appels gebruik.

 

Om te drink
Monis se muskadel. Die soet smaak en vrugtegeure sal die beste in die appeltertjies na vore bring. Muskadel is bekend daarvoor dat dit baie goed by enige vrugtige nagereg pas.