Gebak

Marokkaanse lamskenkels met spesery-droëvrugte

  • 5 groot lamskenkels
  • sap van 2 suurlemoene
  • 100 ml olyfolie
  • 125 ml vars roosmarynblare, fyngekap
  • 15 ml geroosterde komynsade, grofgekap
  • 4 knoffelhuisies, fyngekap
  • sout en varsgemaalde swartpeper na smaak

Verhit jou oond tot 160 °C. Plaas die skenkels in ’n oondroosterbak. Gooi die suurlemoensap en olyfolie oor. Voeg die roosmaryn, komyn en knoffel by. Maak seker die vleis word goed met die kruie bedek. Geur met sout en swartpeper. Sit in die oond en rooster totdat die vleis lekker sag is. Dit sal so 2 uur neem. Berei intussen die spesery-droëvrugte.

Spesery-droëvrugte

  • 125 ml olyfolie
  • 1 ui, fyngekap
  • 4 knoffelhuisies, fyngekap
  • 1 droë brandrissie (opsioneel)
  • 5 ml komynsade
  • 5 ml fyn gemmer
  • 5 ml fyn kaneel
  • 2,5 ml borrie
  • 2,5 ml gerookte paprika
  • 250 ml droë appelkose, geweek in 125 ml water vir 30 minute
  • 250 ml droë pruime, geweek in 125 ml water vir 30 minute
  • 250 ml sultanas, geweek in 125 ml water vir 30 minute
  • sap van 2 lemoene
  • gerasperde skil van 1 lemoen
  • 125 ml suiker
  • 250 ml water

Verhit die olyfolie in ’n kastrol. Voeg die ui, knoffel, brandrissie, komyn, gemmer, kaneel, borrie en paprika by. Braai alles saam vir so 5 minute. Voeg die droëvrugte by en van die orige water waarin die vrugte geweek het. Voeg die lemoensap, lemoenskil, suiker en water by. Laat prut vir 30 minute. Verwyder die kastrol van die hitte en laat staan tot jy dit benodig.