FOTO Micky Hoyle

FOTO Micky Hoyle

Gebak

Melksjokolade-en-haselneut-macarons

Dié mooi fyngebak lyk dalk ingewikkeld, maar dis eintlik heel eenvoudig. Volg hierdie resep stap vir stap. Die vulsel is veral baie lekker. 

genoeg vir sowat 24 macarons

Vulsel

• 5 ml gelatien
• 10 ml koue water
• 1 eiergeel
• 15 g strooisuiker
• 60 ml melk
• 60 ml room
• 100 g melksjokolade, gesmelt
• 125 ml room, styf geklits
• 100 g geroosterde haselneute, fyngekap

Sjokolade-macarons

• 2 eierwitte
• 1 ml kremetart
• 60 g strooisuiker
• 130 g fyn amandels
• 220 g (420 ml) versiersuiker
• 10 g (10 ml) kakao

Micky Hoyle

FOTO Micky Hoyle

 

1. Begin met vulsel. Week gelatien in koue water tot sponsagtig. Klits eiergeel en suiker met ’n draadklitser saam tot lig en romerig. Bring melk en 60 ml room tot kookpunt in ’n kastrol en gooi stadig by eiermengsel terwyl jy klits. Gooi terug in kastrol. Verhit sowat 10 minute oor lae hitte terwyl jy heeltyd met ’n houtlepel roer tot mengsel die agterkant van lepel bedek. Voeg gelatien en sjokolade by warm eiervla en meng goed deur. Laat afkoel. Vou 125 ml room in. Skep in spuitsak en plaas in yskas. Verhit oond tot 160 °C. Weeg bestanddele vir macarons af.

Micky Hoyle

FOTO Micky Hoyle

 

2. Klits eierwitte en kremetart saam tot lig en skuimerig in ’n elektriese menger se bak. Voeg suiker lepelsgewys by terwyl jy klits. Klits nog 5 minute by hoë spoed. Dit moet ’n baie stywe meringue vorm. Sif amandels, versiersuiker en kakao saam.

Micky Hoyle

Micky Hoyle

 

3. Vou droë bestanddele deeglik by meringue in tot dit heeltemal glad is. Wanneer jy die skraper uithaal, moet die mengsel stadig kant toe vloei.

Micky Hoyle

FOTO Micky Hoyle

 

4. Skep in ’n spuitsak met ’n klein skerprand-tuit. Spuit sirkels van sowat 3 cm op ’n bakplaat wat met bakpapier uitgevoer is. Slaan bakplaat liggies teen ’n werkvlak dat die ligblasies in mengsel kan bars. Plaas in oond en bak 12 minute. Haal bakpapier met macarons af van bakplaat en laat staan op ’n afkoelrak. Smeer vulsel op macarons en plak twee-twee opmekaar.  Rol in fyn haselneute.