Foto deur Donna Lewis
SARIE KOS Augustus/September 2014

Foto deur Donna Lewis SARIE KOS Augustus/September 2014

Gebak

Melktert met vrugte

Die Franse maak vlatert met vrugte bo-op. Hierdie melktert met vars frambose smaak ewe lekker.

Genoeg vir 1 groot tert

Kors
• 280 g (500 ml) koekmeel plus ekstra vir uitrol
• 155 g (170 ml) botter
• 50 g (60 ml) suiker
• 45 ml water

Vulsel
• 30 ml koekmeel
• 45 ml mielieblom
• 2 eiers, geskei
• 65 g (80 ml) suiker
• 750 ml melk
• 25 g (30 ml) botter
• 10 ml fyn kaneel
• 175 g vars bessies van jou keuse

Kors Plaas meel, botter en suiker in voedselverwerker. Pols by hoë spoed tot growwe mengsel vorm. Terwyl menger loop, gooi water geleidelik by tot mengsel in een deegbal saamkom.  Verhit oond tot 180 °C. Sprinkel meel op werkoppervlak en rol deeg met koekroller uit tot so 3 mm dik – hoe dunner, hoe beter. Voer 33 x 9,5 cm tertpan uit met deeg. Sny deeg wat oorhang netjies af. Bak 15 minute blind: Voer rou kors met bakpapier uit en vul met rou rys of bone. Bak 10 minute en verwyder dan papier met rys/ bone. Bak kors nog 10 minute of tot goudbruin en gaar. Hou eenkant.
Vulsel Meng meel, mielieblom en eiergele in groot mengbak. Voeg suiker by en klits goed. Verhit melk en botter tot kookpunt in ’n kastrol en gooi by eiermengsel terwyl jy roer. Gooi mengsel terug in pot en klits oor lae hitte tot dit verdik en meel gaar is – so 8 – 10 minute. Klits eierwitte tot sagte punte vorm. Vou vinnig by warm mengsel in. Skep in kors en maak gelyk. Laat stol 2 uur in yskas. Sif kaneel oor. Pak vars bessies bo-op en sit voor.