Gebak

Meringue-roulade met aarbeivla

(8 porsies)

Vla

  • 10 eiergele (hou 6 van die eierwitte vir die roulade)
  • 45 ml suiker
  • 500 ml melk
  • 250 ml aarbeie, gehalveer

Klits die eiergele en suiker tot lig en romerig. Plaas die mengsel in ‘n dubbele kastrol en voeg die melk stadig by. Roer deurentyd en maak seker dat die sous voldoende verdik. Die proses neem lank, maar is die moeite werd. Moenie kortpad probeer vat deur dit direk op die plaat of in ‘n mikrogolfoond te maak nie. Die eier sal te vinnig gaar word en die sous laat skif. Verwyder die sous van die hitte sodra dit gereed is en laat afkoel tot kamertemperatuur. Sit aarbeie in die afgekoelde vla en verpulp. Hou eenkant.

Meringue-roulade

  • 6 eierwitte
  • 300 g strooisuiker
  • 15 ml asyn
  • 15 g koekmeel
  • 15 ml vlapoeier
  • 60 g strooisuiker
  • 250 ml room
  • 250 ml aarbeie, in skyfies gesny

Verhit die oond tot 180 °C. Voer ‘n bakplaat uit met bakpapier of ‘n silikoon-bakmatjie. Spuit deeglik met kleefwerende middel en sprinkel ‘n bietjie meel oor, indien verkies. Klits die eierwitte styf en voeg die 300 g strooisuiker geleidelik by. Klits asyn by. Meng die koekmeel, vlapoeier en die 60 g strooisuiker. Klits die meelmengsel laaste by die eiermengsel. Skep die meringuemengsel op die bakplaat en versprei soos vir ‘n rolkoek. Bak vir 15 minute. Laat effens afkoel. Keer die meringue op ‘n vadoek uit en verwyder die bakpapier versigtig. Klits die room styf, smeer oor die meringue en sit aarbeiskyfies bo-op. Rol met die vadoek op tot ’n stywe rol. Plaas die rouladenou op ‘n broodplank en sny met ‘n broodmes in skywe. Rangskik die skywe op borde en drup van die vla rondom. Sit voor met vars aarbeie en ekstra vla.