Gebak

Meringues

(sowat 28 meringues)

  • 8 eierwitte
  • 250 g (300 ml) strooisuiker
  • 200 g (380 ml) versiersuiker, gesif
  • 25 g (50 ml) mielieblom, gesif

Verhit jou oond tot 120 °C. Klits die eierwitte tot sagte punte vorm en klits die strooisuiker bietjie vir bietjie by totdat die mengsel styf is. Vou die versiersuiker en mielieblom versigtig in. Voer ’n bakplaat met bakpapier en spuit die bakpapier goed. Skep of spuit die meringues (besluit self hoe groot – ek stel voor so 3 cm) op die bakplaat. Plaas in die oond en bak vir so 3 ure.

Vulsel

  • 200 g witsjokolade
  • pienk voedselkleursel (verkieslik poeierkleursel)

Breek die witsjokolade in ’n bak wat oor ’n kastrol pas. Bring water tot kookpunt in die kastrol. Skakel die stoofplaat af en plaas die bak oor die kastrol. Maak seker dat die bak nie aan die water raak nie. Roer die sjokolade elke nou en dan tot dit gesmelt is. Voeg ’n klein bietjie kleursel by tot jy die gewenste kleur het. Plak twee meringues aan mekaar vas met die sjokolade.