Foto's deur Micky Hoyle

Gebak

Mielie-en-spek-tert

4 – 6 PORSIES

Deeg
• 200 g (360 ml) koekmeel
• 100 g (110 ml) botter
• knippie sout
• 30 – 45 ml koue water

Plaas meel, botter en sout in voedselverwerker. Meng tot dit soos broodkrummels lyk. Voeg net genoeg water by om ’n deeg te vorm. Bedek met kleefplastiek en laat rus in die yskas vir sowat 30 minute. Rol uit op meelbestrooide oppervlak en voer ’n tertbord van so 18 cm wat goed gesmeer of gespuit is daarmee uit.

Vulsel
• 30 ml botter
• 250 g strepiespek (streaky bacon), in blokkies gesny
• 3 preie, in skywe gesny
• 1 blik (340 g) mieliepitte, gedreineer
• 100 g cheddarkaas, gerasper
• 3 eiers
• 250 ml room
• 125 ml melk
• sout en varsgemaalde swartpeper na smaak

Verhit oond tot 180 ºC. Smelt helfte van botter in ’n pan. Braai spek tot bros, haal uit en
dreineer op kombuispapier. Smelt res van botter in dieselfde pan en braai preie tot sag. Meng preie, spek en mieliepitte. Sprinkel helfte van kaas in uitgevoerde tertbord. Skep vulsel bo-op. Sprinkel res van kaas oor. Klits eiers, room en melk saam en gooi oor vulsel. Geur met sout en swartpeper. Bak vir sowat 34 minute tot gestol.