Foto deur Micky Hoyle

SARIE KOS AUG/SEP 2012

Foto deur Micky Hoyle SARIE KOS AUG/SEP 2012

Gebak

Mini-quiches Lorraine

Die klassieke quiche-Lorraine bevat geen uie nie, maar in Amerika is hulle baie lief om gebraaide uie by te voeg. Die Franse gebruik net die kaas en spek. Die Engelse gesegde van “less is more” werk meestal in kos en is beslis hier van toepassing.

(12 x 5 cm-groot quiches)

Baktyd: 20 minute

Deeg

  • 50 g (55 ml) ongesoute botter
  • 100 g (180 ml) koekmeel
  • 15 – 30 ml koue water

Dié metode is die maklikste manier om deeg te maak. Jy sal ook nie die deeg oorbewerk nie. Plaas botter en meel in voedselverwerker. Pols tot botter en meel gemeng is. Voeg water een lepel op ’n slag by terwyl die masjien loop en meng tot dit ’n deeg vorm. Haal uit en maak toe met kleefplastiek. Laat rus in yskas vir sowat 30 minute.

Vulsel

  • 15 ml botter
  • 250 g strepiespek, klein blokkies gesny
  • 100 g gruyère-kaas, fyn gerasper
  • 1 eier, geklits
  • 125 ml room
  • 25 ml melk
  • varsgemaalde swartpeper
  • mikrokruie vir garnering

Verhit oond tot 180 °C. Smelt botter in pan. Voeg spek by en braai tot bros. Skep spek uit en dreineer op kombuispapier. Haal deeg uit yskas en rol dun uit op ’n meelbestrooide oppervlak. Voer plat 5 cm-muffinpannetjies met deeg uit. Verdeel kaas tussen pannetjies. Skep spek bo-op kaas. Klits eier, room en melk goed saam. Geur. Verdeel die eiervla tussen pannetjies. Plaas in warm oond en bak 20 minute tot deeg gaar is en eier gestol is. Haal uit en sprinkel mikrokruie oor. Sit warm voor. Die quiches kan ook by kamertemperatuur voorgesit word.

  • Cecile van Greunen

    Beste en maklikste en boonop lekkerste resep wat ek nog gemaak en geëet het is die Mini-quiches Lorraine! Van al die soutgoedjies wat voorgesit was, was dit eerste op en het die meeste reaksie uitgelok!