Foto's deur Micky Hoyle

Gebak

Onderstebo-groente-tert met port-afkooksel (Groente-TarteTatin met port-reduksie)

(8 – 10 porsies)

broskors

  • 280 g (500 ml) koekmeel
  • 125 g (125 ml) botter
  • knippie sout
  • 3 eiergele
  • 60 ml yswater

Sit die meel, sout en botter in ‘n voedselverwerker en sny die botter in. As jy nie ‘n voedselverwerker het nie, gebruik jou vingers en vryf die botter in. Voeg die eiergele en water by en verwerk tot ‘n deeg. Bedek deeg met kleefplastiek en hou in die yskas tot nodig.

groente en port-afkooksel

  • 1 kg botterskorsie, geskil en in blokkies gesny
  • 3 pere, ontpit en in blokkies gesny
  • 3 patats, gewas en met skil in blokkies gesny
  • 2 pakkies SF’s Butternut Mix – as jy dit nie in die hande kan kry, gebruik 15 ml gedroogde origanum wat met 15 ml Robertsons Veggie Sprinkles gemeng is
  • 10 ml fyn knoffel of 2 knoffelhuisies, gekneus
  • sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
  • 80 – 100 ml olyfolie
  • 50 ml botter
  • 3 middelslag-uie, geskil en in halwe ringe gesny
  • 80 ml bruinsuiker
  • 160 ml balsemasyn (Sonja noem dit balsemiekasyn)
  • 40 ml port (as jy nie port het nie, gebruik ‘n soetwyn)
  • 100 – 120 g gorgonzola-kaas

Verhit oond tot 190 °C. Meng groente (behalwe uie) en pere met die Butternut Mix, knoffel, geurmiddels en olyfolie. Oondrooster vir 40 – 60 minute. Verhit botter in oondvaste swaarboompan (25 cm-deursnee) en voeg uie by. Braai tot glasig vir 1 – 2 minute. Voeg suiker en dan balsemasyn en port by. Roer tot suiker gesmelt het. Laat prut vir 3 – 5 minute tot die meeste van die vloeistof verdamp het. Skep die geroosterde groente op die uie-en-portmengsel. Rol broskorsdeeg uit en sit bo-oor groente sodat al die groente bedek is. Dit hoef nie te netjies te lyk nie, want jy keer die tert om wanneer dit gaar is. Bak vir 30 minute. Haal uit en laat staan 15 minute. Keer tert uit op ‘n mooi bord, sit stukke gorgonzola bo-op en versier met vars vinkel. Dis ‘n lekker voorgereg of ligte ete. Kan as bygereg by hoender of vleis voorgesit word, maar los dan die kaas uit.