Foto deur Micky Hoyle

SARIE KOS APRIL/MEI 2013

Foto deur Micky Hoyle SARIE KOS APRIL/MEI 2013

Bykos

Oop hoender-en-mozzarella-brood

Jy kan baie tyd spaar as jy die deeg vir hierdie gereg sommer by die bakkery van die naaste supermark koop.
(genoeg vir 4 – 6)

  • 4 ontbeende hoenderborsies, sonder vel
  • 30 ml olyfolie
  • 2 uie, gehalveer en in skywe gesny
  • 3 knoffelhuisies, fyngekap
  • sout en varsgemaalde swartpeper
  • groot hand vol vars basiliekruidblare, grofgekap
  • 300 g mozzarella-kaas, gerasper
  • 1 kg winkelbrooddeeg
  • olyfolie vir oorsprinkel

Verhit oond tot 180 °C. Sny hoenderborsies in skywe van sowat 2 cm. verhit olyfolie in pan op stoof en braai hoender tot net bruin. Verlaag hitte van stoofplaat en voeg uie en knoffel by. Geur met sout en peper. Braai tot uie sag en deurskynend is. Skep uit pan en laat afkoel. Wanneer hoendermengsel afgekoel het, voeg basiliekruidblare en kaas by. Meng goed deur. rol deeg dik uit en plaas op gesmeerde bakplaat. Onthou, jy maak nie ’n pizza nie maar ’n brood – die deeg moet dus so 4 cm dik wees. Skep vulsel bo-op – nie heeltemal tot teen die rand nie. Moenie bekommerd wees as die bolaag na baie lyk nie, dis reg so. Sprinkel ’n klein bietjie olyfolie oor en plaas in oond. Bak sowat 35 minute tot deeg gaar is. Sit warm voor.