sk1010vrugte4
Gebak

Papawersaad-en-suurlemoen-kolwyntjies

(12 kolwyntjies)

  • 140 g (250 ml) koekmeel
  • 5 ml bakpoeier
  • knippie sout
  • 2 ml koeksoda
  • 30 ml botter
  • 15 ml sonneblomolie
  • 105 g (125 ml) strooisuiker
  • 1 eier
  • 1 eierwit
  • 30 ml suurlemoenskil
  • 125 ml karringmelk
  • 30 ml papawersaad 

versiersel en stroop

  • 250 ml water
  • 100 g (125 ml) suiker
  • 1 suurlemoen, in dun skywe gesny
  • 1 x basiese vanieljeversiersel
  • hand vol papawersaad

Verhit oond tot 180 °C. Voer kolwyntjiepannetjies met papierbakkies uit en spuit goed met kleefwerende sproei. Sif meel, bakpoeier, sout en koeksoda saam in ‘n mengbak. Klits botter en olie saam met ‘n elektriese klitser. Voeg strooisuiker bietjie vir bietjie by en klits tot romerig. Voeg die heel eier by en klits goed, gevolg deur die eierwit. Klits goed. Voeg skil by. Vou meelmengsel om die beurt met die karringmelk in. Vou laastens die papawersaad in en skep in papierbakkies. Plaas in warm oond en bak vir 20 – 25 minute. Terwyl kolwyntjies bak, kook
suikerstroop só: Meng water en suiker saam in ‘n mediumgroot pot. Bring tot kookpunt en voeg suurlemoenskywe by. Laat kook vir 3 minute. Haal suurlemoenskywe uit en hou eenkant. Gooi warm stroop oor die gaar kolwyntjies. Laat afkoel voor jy dit versier. Meng vanieljeversiersel en papawersaad saam. Skep op kolwyntjies en sit suurlemoenskywe bo-op.