Gebak

Papierdun koekies met Sjokoladeroom (cannoli)

(genoeg vir 12)

• 3 eierwitte

• 90 g (160 ml) koekmeel

• 90 g (175 ml) versiersuiker

• 90 g (95 ml) botter, gesmelt

• 5 ml vanielje

Vulsel

• 250 ml room

• 45 ml versiersuiker

• 10 ml vanieljegeursel

• 100 g donkersjokolade, fyngekap

• sjokoladesous van goeie gehalte, vir voorsit

Verhit oond tot 180 °C.Meng al die die koekie-bestanddele tot gladde beslag. Plaas in yskas vir 20 minute. Voer bakplaat met bakpapier uit en spuit goed met kleefwerende kossproei. Smeer net 2 sirkels met deursnee van sowat 15 cm op die papier – nie meer as 2 op een slag nie.Dit hoef nie baie dik te wees nie. Bak vir 5 – 8 minute of tot die kante goudbruin verkleur.Haal uit oond en draai om die handvatsel van dik houtlepel terwyl koekie nog vuurwarm is. Laat afkoel tot hard. Herhaal proses tot al die beslag opgebruik is. Dis belangrik om nie te veel op een slag te bak nie, want dan gaan die koekies hard word voor jy dit kan vorm.

Vulsel

Klits room tot sagte punte vorm. Voeg versiersuiker en vanielje by en klits verder tot stywe punte. Vou sjokolade in. Skep mengsel in versiersak met 1 cm-tuit. Vul koekies met room en sit voor met die sjokoladesous.

Wenk

Jy kan met dié beslag ook ander vorms van jou keuse bak en dit dan as garnering op roomys of ander nageregte gebruik