Pastei de Nata ( vla-tertjies)
Gebak

Pasteis de Nata (vla-tertjies)

(12 tertjies)

Deeg

•    250 g ongesoute botter, koud en in klein blokkies gesny
•    250 g koekmeel
•    40 g strooisuiker
•    knippie sout

Sit die botter, meel, suiker en sout in ‘n mengbak. Vryf die botter in tot dit soos broodkrummels lyk. Voeg 3 eetlepelswater by (‘n klein bietjie meer indien nodig). Meng alles saam tot ‘n deeg. Maak toe met kleefplastiek en laat rus in die yskas vir minstens twee uur. (Jy kan dit die vorige dag maak.) Rol die deeg op ‘n meelbestrooide oppervlak uit tot so 40 x 45 cm groot. Sny die deeg in die lengte in die helfte. Rol elke stuk deeg in die lengte op om twee lang worse te vorm. Sny die growwe kante af. Sny elke deegwors in ses dele, elk so 6 cm lank. Laat elke stukkie deeg regop staan op ’n gesnyde kant en druk dit met jou duim plat. Dit moet soos ‘n nessie lyk. Moenie die deeg oorwerk nie – dit moet nog soos blaardeeg oppof. Voer effens gesmeerde muffinpanne met die deeg. Die deeg moenie te dik wees onderin nie. Sit diepan in die yskas terwyl jy die vulsel maak.

Vla vulsel

•    100 g strooisuiker
•    30 g koekmeel
•    185 ml melk
•    2,5 ml vanielje-ekstrak
•    1 reep suurlemoenskil
•    3 eiergele
•    125 ml room

Verhit jou oond tot 220 °C. Plaas die strooisuiker en 3 eetlepels water in ‘n kastrol. Bring tot kookpunt terwyl jy aanmekaar roer tot die suiker opgelos is. Laat die stroop prut tot dit effens verdik het, maar nie tot ‘n karamel nie. Meng intussen die meel in ‘n mengbak met ‘n bietjie van die melk tot ‘n gladde pasta. Verhit die res van die melk in ‘n kastrol saam met die vanielje-ekstrak en suurlemoenskil. Net voor die melk wil begin kook, voeg jy die melk by die meelpasta en meng goed. Verwyder die suurlemoenskil. Klits die eiergele by en gooi dan die mengsel terug in die kastrol. Klits dit oor lae hitte vir sowat 1 minuut tot die eiergele effens verhit is. Voeg die stroop in ‘n dun straaltjie by die eier-en-melkmengsel terwyl jy aanmekaar klits. Verwyder van die hitte en meng die room in. Gooi die mengsel uit in ‘n beker en gooi dit dan in die gevoerde muffinpanne. Bak vir 15 – 20 minute tot die deeg gaar is en die vulsel goudbruin met ‘n paar donker kolle bo-op. Laat in die pan afkoel. Bedien teen kamertemperatuur.