Gebak

Peer-en-bloukaas-pizza

4 pizzas

Deeg

  • 250 g (445 ml) koekmeel
  • 250 g (445 ml) broodmeel
  • 1 pakkie (10 g) kits-suurdeeg
  • 5 ml suiker
  • 2 ml sout
  • sowat 375 ml louwarm water

Meng koekmeel, broodmeel, suurdeeg, suiker en sout saam in ’n mengbak. Voeg genoeg louwarm water by om ’n deeg te vorm. Die deeg moenie te styf wees nie. Knie dit vir 10 minute op ’n meelbestrooide oppervlak. Plaas deeg in ’n skoon mengbak en smeer ’n klein bietjie olyfolie bo-op. Maak bak toe met kleefplastiek en plaas op ’n warm plek. Laat deeg tot dubbel sy grootte rys. Dit kan tot ’n uur of meer neem. Knie deeg af en verdeel in vier. Rol vier sirkels uit, so 3 mm dik. Verhit ’n riffelpan en braai elke deegsirkel weerskante tot gaar.

Bo-laag

  • Jy kan bloukaas of brie bo-op sit.
  • 1 bottel (300 g) uie-marmelade
  • 2 Forelle-pere, inwiggies gesny
  • 150 g bloukaas of 125 g brie, in skywe ofblokkies gesny
  • groot hand vol vars roket
  • varsgemaalde swartpeper na smaak
  • olyfolie, om bo-oor tesprinkel

Smeer ’n lekker dik laag uie-marmelade op elke pizza-basis. Rangskik pere en kaas bo-op en sprinkel vars roket oor. Geur met swartpeper en besprinkel met ’n bietjie olyfolie.

Om te drink
Groot Constantia Sauvignon Blanc