sk0910gesonder08
Gebak

Gesonder peer-sjokoladekoek

Koek van 16 snye
Porsiegrootte: 1 sny

  • 200 g Lindt 70%- donkersjokolade
  • 50 g botter
  • 25 ml gouestroop
  • 50 ml sonneblomolie
  • 4 groot eiers
  • 5 ml vanieljegeursel
  • 200 g (250 ml) suiker
  • 2 middelslag pere, geskil, ontklok en grofgerasper (300 g gerasperde peer)
  • 75 g pekanneute, grofgekap
  • 200 g (350 ml) koekmeel
  • 1,25 ml sout

Verhit oond tot 180 ˚C. Voer ’n koekpan van 22 x 22 cm met bakpapier uit en spuit of smeer dit. Smelt sjokolade en botter oor kookwater. Roer stroop en olie geleidelik by. Klits intussen eiers, vanieljegeursel en suiker saam tot liggeel en donsig. Klits sjokolademengsel geleidelik by eiermengsel. Klits voortdurend. Roer gerasperde pere en neute by. Sif koekmeel, bakpoeier en sout saam en roer by. Skep in voorbereide koekpan en vee deeg gelyk. Bak vir  35 – 40 minute tot gaar – toets met ’n tandestokkie.

Peer-tjips

  • 1 Beurre Bosc-peer, baie dun gesny met skil en al
  • 30 ml strooisuiker

Verhit oond tot 150 °C. Doop peersnytjies in strooisuiker en plaas op bakplaat wat uitgevoer is met bakpapier. Bak vir 15 minute. Draai snytjies om en bak vir nog 15 minute. Haal uit en laat verder bros word. Rangskik bo-op koek.

Veerlig
Die metode vir die gesonder weergawe sluit ’n bietjie meer lug in en rysmiddel is bygevoeg. Dis nou lugtiger – dít laat porsies groter lyk.

Stroopsag
Gouestroop dra by tot die koek se sagtheid.

Minder botter
Die verskil is 10 ml minder suiker en 5 ml minder botter per porsie. Minder botter en die gedeeltelike vervanging daarvan met sonneblomolie verminder versadigde vet en cholesterol en sorg vir meer poli-onversadigde vetsure.

Eet dít saam
Sit voor met ’n klein skeppie room of laevet-roomys, maar dis nie by die voedingstof-analise by-bereken nie (tjips ook nie).

Vergelyking van voedingstof-analise per porsie

RESEP ENGERGIE KOOLHIDRATE PROTEIENE VET CHOLESTEROL
Oorspronklik 1604 kj 44.5 g 4.3 g 20.5 g 75 mg
Aangepas 1220 kj 33.0 g 4.0 g 15.6 g 59 mg