Foto deur Micky Hoyle SARIE KOS Augustus/September 2014

Gebak

Peertertjies

Die pere is ’n lekker plaasvervanger as jy lus het vir iets anders as appeltert.

Genoeg vir 12
• 6 pere
• 500 g (625 ml) suiker
• 500 ml water
• 1 ml vanieljepoeier
• 100 g (110 ml) botter by kamertemperatuur
• 100 g (120 ml) strooisuiker
• 200 g fyn amandels
• 1 eier, geklits
• 2 vierkantige velle bevrore blaardeeg

Skil pere en halveer in die lengte. Skep pitte uit met teelepel. Gooi suiker, water en vanieljepoeier in ’n groot kastrol. Verhit en roer deurentyd tot suiker gesmelt het. Bring tot kookpunt en plaas pere versigtig in warm stroop. Sny ’n sirkel uit waspapier wat so groot is soos die kastrol se bokant om die pere en stroop heeltemal te bedek. Sny ’n ronde gaatjie in die middel van die waspapier. Plaas waspapier direk bo-op pere en stroop en verlaag hitte. Prut sowat 30 minute tot sag. Haal pere uit en laat afkoel. Hou stroop eenkant. Verhit oond tot 200 °C. Room botter en suiker saam tot lig. Voeg amandels en eier by en meng goed. Haal blaardeeg uit vrieskas en laat staan sowat 20 minute – die deeg moet nog bevrore wees. Sny elke vel deeg in 3 gelyke stroke. Halveer elke strook   in middel. Plaas deeg op uitgevoerde bakplate. Verdeel die amandelmengsel tussen die stroke en smeer plat. Sny kepe in die lengte op elke peer. Plaas ’n peer op elke deegstrook met amandelvulsel en druk effens plat sodat die kepe ’n waaier maak. Plaas in oond en bak 45 minute tot ’n uur. Terwyl tertjies bak, plaas die stroop terug op stoof en verhit. Laat afkook om ’n dikker stroop te maak. Haal tertjies uit oond en verf die pere met stroop. Laat effens afkoel en sif ’n klein bietjie versiersuiker om die rand van elke tertjie. Sit voor met styfgeklopte room of roomys.