Foto deur Donna Lewis
SARIE KOS FEB/MRT 2014

Foto deur Donna Lewis SARIE KOS FEB/MRT 2014

Gebak

Pekanneut-en-sjokolade-lae

8 – 10 porsies

  • 60 ml heuning
  • 45 ml onverwerkte bruinsuiker
  • 100 g pekanneute
  • 2 x 500 g blaardeeg
  • 200 ml laevet-melk
  • 200 g 85%-donkersjokolade, fyngekap
  • 200 g crème fraîche
  • 125 g bessies van jou keuse
  • ekstra heuning om mee voor te sit

Verhit oond tot 180 ˚C. Meng heuning en bruinsuiker saam in ’n middelslagpot. Bring tot kookpunt en laat stadig prut tot ligte karamel vorm, sowat 5 – 8 minute. Voeg neute by en meng. Keer neutemengsel uit op ’n gespuite bakplaat en laat afkoel tot hard. Sit in voedselverwerker en verwerk tot growwe krummels. Rol twee velle blaardeeg tot sowat 3 mm dik op ’n meelbestrooide oppervlak uit. Plaas een vel op bakplaat wat uitgevoer is met bakpapier en gespuit is met kleefwerende kossproei. Sprinkel karamelneute oor en plaas tweede uitgerolde vel blaardeeg bo-op. Sit ’n vel bakpapier en nog ’n bakplaat bo-op. Plaas swaar pot wat oondvas is op bakplaat. Sit in oond en bak sowat 15 – 20 minute tot goudbruin. Haal uit oond en laat afkoel. Gebruik ’n skerp mes en sny in reghoeke van 10 x 5 cm. Hou eenkant. Bring melk tot kookpunt en gooi oor gekapte sjokolade. Roer tot gladde mengsel. Sit in yskas en verkoel tot koud, maar nog nie gestol nie. Gebruik ’n elektriese klitser en klits mengsel tot dik en romerig – dit sal lyk soos sjokolademousse. Skep lepels vol van die sjokolademengsel op blaardeeg-reghoeke. Plak twee opmekaar. Sit voor met crème fraîche, bessies en ekstra heuning.

WENK
Skep die sjokolademengsel so gou moontlik op die blaardeeg nadat jy dit styf geklits het, voor dit heeltemal stol.