Foto deur Micky Hoyle SARIE KOS APR/MEI 2014

Gebak

Piesangbrood-poeding

My ma het graag broodpoeding gemaak, want dis maklik. Hierdie nuwe weergawe is spesiaal vir almal wat mal is oor piesangs. Koop ’n piesangbrood in die supermark en omskep dit in ’n poeding.

Genoeg vir 4
• botter vir smeer
• 12 snye winkelpiesangbrood
• 250 ml room
• 3 eiers
• 25 g (30 ml) suiker
• 100 g (110 ml) botter
• 2 piesangs
• 125 ml room, styfgeklop
• fyn kaneel om oor te sprinkel

Verhit oond tot 180 °C. Smeer 4 oondbakkies met ’n bietjie botter. Smeer botter op snye piesangbrood en pak 3 snye in elke bakkie. Klits room, eiers en suiker saam. Gooi oor snye brood, maar doen dit bietjies-bietjies op ’n slag om die roommengsel kans te gee om in die brood in te trek. Plaas bakkies op ’n bakplaat en plaas in oond. Bak sowat 35 – 45 minute tot eiermengsel gestol het. Smelt intussen die 100 g botter in ’n pan. Skil en halveer die piesangs in die lengte. Braai piesangs in botter tot weerskante mooi bruin. Wanneer die poedings gaar is, haal uit oond. Laat staan ’n paar minute. Plaas ’n gebraaide piesang bo-op elke bakkie met poeding en skep geklopte room bo-op. Sprinkel bietjie kaneel oor en sit dadelik voor.