Platbrood met hoemoes

Platbrood met hoemoes FOTO Lee Malan

Bykos

Platbrood met hoemoes

Tyd met Tapas

Laat jou gaste vergeet van tyd met ń verskeidenheid klein bakkies kos, warm en koud, en daarby heerlike, vars brood. So ń peusel-ete is sakpas en gemaak vir kuier.

Platbrood met hoemoes is ’n moet op enige tapas-tafel.

• 2 x 400 g-blikke kekerertjies, gedreineer en doppe verwyder
• 4 knoffelhuisies, fyngekap
• 60 ml tahini-pasta (kyk in jou supermark se gesondheidsafdeling)
• 60 ml olyfolie
• sout en varsgemaalde swartpeper
• 60 ml botter
• 45 ml paprika

Brood
• 125 ml water
• 10 ml sout
• 45 ml olyfolie
• 45 ml heuning
• 280 g (500 ml) koekmeel
• 20 ml fyn komyn
• 60 ml sonneblomolie

Plaas kekerertjies, knoffel, tahini en olyfolie in voedselverwerker en verwerk op hoë spoed tot glad. Geur met sout en peper. Plaas botter en paprika in ’n middelslag-pot en bring tot kookpunt. Laat prut vir 3 minute of tot die botter ’n neutbruin kleur kry. Hou eenkant.

Brood: Meng water, sout, olyfolie en heuning saam in ’n middelslagmengbak. Voeg genoeg meel by tot ’n stywe, kniebare deeg vorm.Knie vir 8 – 10 minute of tot ’n gladde, elastiese deeg. Laat rus vir 20 minute.Verdeel deeg in 10 ewe groot porsies. Strooi koekmeel op werkoppervlak en rol deeg tot papierdun met ’n koekroller uit. Sprinkel ’n bietjie komyn oor elke brood en rol koekroller nog een laaste keer oor. Die vorm van die brood maak nie saak nie.Verhit ’n klein bietjie sonneblomolie in ’n skoon braaipan. Plaas deeg in warm pan en braai 5 – 8 minute per kant of tot goudbruin. Herhaal tot al die brood gebraai is. Skep hoemoes in ’n opdienbakkie en gooi paprikabotter oor. Sit voor saam met brood.

Platbrood met hoemoes

Platbrood met hoemoes
FOTO Lee Malan

 

WENK
Jy kan die platbrode braai voor jou gaste kom. Draai dan almal saam toe in tinfoelie. Verhit dit net voor jy dit voorsit binne-in die tinfoelie in ’n warm oond.

Niemand weet wat die oorsprong van dié manier van eet is nie. Een van die meer gewilde oorlewerings is dat koning Alfonso X wat in die 13de eeu oor die Spaanse streek Castile geregeer het, baie siek geword het. Hy kon net klein happies kos geëet en ’n bietjie rooiwyn gedrink het. Toe hy gesond word, het hy opdrag gegee dat geen kroeg in Castile wyn mag bedien sonder iets te ete daarby nie. Nog ’n weergawe lui dat koning Alfonso XIII op reis gegaan het en ná ’n lang rit gestop het vir ’n glas sjerrie. Die wind het gewaai en die persoon wat die sjerrie geskink het, het die glas met ’n sny ham bedek sodat daar nie sand inkom nie. Toe die koning nog sjerrie wou hê, het hy gevra vir nog ’n glas met ’n “tapa” of “deksel”.

www.spanishfood.about.com; www.orceserranohams.com

TAPAS in 10 minute

1 Vul vars vye met lepels vol mascarpone-kaas. Draai elkeen toe in repies parma-ham.

2 Koop 125 g pesto en meng met 100 ml goeie olyfolie. Gooi oor 6 wiele fetakaas en sit voor.

3 Doop 20 balletjies baba-mozzarella-kaas in 1 geklitste eier en daarna in 100 g fyn broodkrummels. Verhit sonneblomolie oor matige hitte en diepbraai tot goudbruin en bros. Sit voor.

4 Meng 250 g roomkaas met 125 g fyngekapte, songedroogde tamaties. Geur goed met sout en swartpeper. Sit voor as doopsous saam met brood.

5 Sny 1 baguette in dun snye. Braai in 60 ml botter tot goudbruin en bros. Sit voor saam met tzatziki wat jy by die supermark gekoop het.

Edition SARIE Maart 2012 | Story Tyd saam met Tapas|Resep Platbrood met hoemoes