Foto deur Donna Lewis

SARIE KOS JUNIE/JULIE 2013

Foto deur Donna Lewis SARIE KOS JUNIE/JULIE 2013

Bykos

Polenta-tjips met tamatiesous

Die Britse sjef Jamie Oliver het die tjips die eerste keer gemaam. Ek bak dit in die oond vir ʼn gesonder opsie.
(Genoeg vir 4)

Sous

  • 1 rooi-ui, fyngekap
  • 2 knoffelhuisies, fyngekap
  • 10 groot tamaties, fyngekap
  • 150 ml tamatiepuree
  • 160 g (200 ml) bruinsuiker
  • 125 ml rooiwyn-asyn

Tjips

  • 2 liter hoenderaftreksel
  • 500 g (590 ml) polenta
  • 70 g (250 ml) parmesaankaas, gerasper, plus ekstra vir oorrasper
  • 1 takkie roosmaryn, fyngekap
  • sout en varsgemaalde swartpeper

Sous
Plaas bestanddele vir sous in middelslag-pot en bring tot kookpunt. Verlaag hitte en laat prut tot dik sous vorm, sowat 30 – 40 minute. Verwyder van hitte en verpulp in voedselverwerker tot glad. Druk deur ’n sif. Hou eenkant.

Tjips
Bring aftreksel tot kookpunt. Voeg polenta by terwyl jy met houtlepel roer. Verlaag hitte en roer tot polenta gaar is, sowat 8 – 10 minute. Voeg parmesaan, roosmaryn, sout en peper by. Roer. Spuit ’n bakplaat van 30 x 20 cm met kleefwerende kossproei en gooi polenta daarin. Smeer gelyk, sodat dit nie dikker as 1,5 cm is nie. Laat stol in yskas. Verhit oond se rooster-element. Keer polenta uit op houtbord en sny in repe van 5 x 1,5 cm. Pak weer op bakplaat en rasper ekstra parmesaan oor. Rooster tot goudbruin. Sit voor met tamatiesous.