Gebak

Potgebraaide beesvleis

(4 – 6 porsies)

  • 30 ml olyfolie
  • 1,4 kg potbraaistukbeesvleis (pot roast)
  • sap van 1 suurlemoen
  • sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
  • 2 knoffelhuisies, fyngedruk
  • 8 klein piekel-uitjies
  • sowat 250 ml water
  • 15 ml vleissous-verdikker

Verhit olie in ‘n dikboomkastrol. Plaas vleis in kastrol en braai eers aan eenkant tot dit loskom. Draai om en braai dan alle kante van die vleis. Die temperatuur moet hoog bly. Gooi ‘n bietjie water by as die bodem swart word. Wanneer die vleis mooi bruin is, stel die temperatuur laer en gooi die suurlemoensap oor. Geur met sout en peper en voeg die knoffel by. Pak die uitjies om die vleis en maak toe met ‘n deksel. Vir 1,4 kg beesvleis – as jy dit nog lekker pienk in die middel wil hê – sal dit 1 uur neem. Vir gaarder, nog 15 – 20 minute. Draai so elke nou en dan die vleis om en voeg bietjies-bietjies water by soos nodig. Haal die vleis ná ‘n uur uit en laat vir minstens 10 minute rus. Maak nou die vleissous. Stel die plaat warmer en voeg so 125 ml water by die vleissous in die kastrol. Meng vleissousverdikker met ‘n klein biejtie water en voeg by. Roer goed en laat kook sowat 5 minute.