sk07muratie04
Gebak

Potgebraaide beesvleis

  • 45 – 60 ml beesvet (vra jou slagter om ’n paar stukke beesvet van die karkas af te sny – dit moet sagte vet wees)
  • 2 kg binneboud (topside)
  • 15 ml bruinasyn
  • 1 groot ui, in dik ringe gesny
  • sout en varsgemaalde swartpeper
  • 15 ml mosterdpoeier
  • 2,5 ml varsgemaalde neutmuskaat
  • 5 ml varsgemaalde koljander
  • 20 klein uitjies
  • 3 knoffelhuisies, opgesny
  • 1 groot wortel, in dik skywe gesny
  • 6 snye murgbeen van bees, 1 tot 2 cm dik

Smelt die vet in ‘n groot swaarboomkastrol. Besprinkel vleis met die bruinasyn. Sit die vleis en die uieringe in die kastrol en braai oor matige hitte tot bruin. Draai die vleis gereeld om tot dit oral bruin is. As dit lyk of die vleis en uie wil aanbrand, gooi kookwater bietjies-bietjies by sodat ‘n mooi bruin sousie vorm. Gooi die geurmiddels by wanneer die vleis bruin is, sit die deksel op en prut stadig vir sowat 1 uur. Voeg nou die klein uitjies, knoffel, wortel en murgbene by en verbruin dit stadig saam met die vleis. Hou ‘n koppie kookwater gereed om by te drup wanneer die vog in die kastrol te min raak. Laat prut vir sowat 30 minute. Toets vir gaarheid met ‘n sosatiestokkie. As die vleissap effens rooi is, is die vleis gaar. As die vleis nog te rooi is, laat dit voortprut en draai gereeld om tot gaar genoeg na jou smaak. Skep uit in ‘n groot vleisskottel. Skep die oortollige vet van die sous in die kastrol af. Gooi ‘n bietjie kookwater by – jy kan die sous ook met bruinsouspoeier verdik. Gooi in ‘n sousbeker en sit voor saam met die vleis.