Gebak

Pruim-en-amandeltert

Ek sit die tert graag warm voor saam met mascarpone-kaas.

(6-8 porsies)

Deeg

  • 250 g meel
  • 15 ml strooisuiker
  • 2 ml bakpoeier
  • 180 g ongesoute botter, in klein blokkies gesny
  • 30 ml koue water
  • 5 ml vanieljegeursel

Gooi meel, suiker, bakpoeier en botterblokkies in jou voedselverwerker. Meng saam tot als soos broodkrummels lyk. Voeg koue water en vanieljegeursel bietjies-bietjies by tot ’n deeg vorm. Dalk sal jy nie al die vloeistof nodig hê nie. Maak deeg toe met kleefplastiek en laat rus vir 30 minute in die yskas.

Bo-laag

  • 200 g grofgekapte amandels
  • 12 vars pruime, ontpit en in skywe gesny
  • 175 g strooisuiker
  • 1 vel (400 g) blaardeeg
  • 1 eierwit, effens geklits
  • ekstra strooisuiker om op die rand van die deeg te sprinkel

Verhit oond tot 160 °C. Rol deeg uit op ’n oppervlak wat goed met meel bestrooi is en voer ’n 34 x 24 cm-bakplaat (met ’n rand en goed gesmeer) uit met deeg. Sprinkel amandels bo-op deeg.
Meng pruime en strooisuiker saam in ’n bak. Rangskik pruime bo-op deeg. Gebruik nou die blaardeeg en druk blaartjies uit. Smeer rand van deeg in die bakplaat met eierwit en versier die rand met blaartjies. Smeer blaartjies met geklitste eierwit en sprinkel met nog strooisuiker. Plaas in warm oond en bak vir 35-40 minute.