Foto deur Donna Lewis SARIE KOS AUG/SEP 2012

Diabeties

Quiche Lorraine met ‘n verskil

Resep deur Annerien Vermeulen

Dié resep laat jou baie aan ’n frittata dink. Die quiche kan deurgaan vir glutenvry, omdat net 5ml meel gebruik word. Jy vervang. Die quiche is heerlik as jy dit laat afkoel en ideaal vir ’n piekniek. Die vulselbestanddele kan ook afgewissel word en jy kan byvoorbeeld ham pleks van spek gebruik en groente soos sampioene en soetrissies byvoeg.

6 porsies

Vla

  • 3 eiers
  • 375 ml vetvrye melk
  • 5 ml koekmeel (of glutenvrye meel)
  • sout en swartpeper na smaak
  • knippie neutmuskaat (nutmeg)

Vulsel

  • 10 ml olyfolie
  • 1 ui, gekap
  • 250 g maer spek, gekap
  • 2 aartappels, geskil en in dun skyfies gesny (ek gebruik Nicola Medium Potatoes)
  • 60 ml laevet-cheddarkaas, gerasper
  • 60 ml parmesaankaas, gerasper
  • gekapte pietersielie om bo-oor te sprinkel

Verhit oond tot 170°C.
Vla Klits eiers, melk en meel saam. Geur met sout, peper en neutmuskaat. Hou eenkant.

Vulsel Verhit 5 ml olyfolie in ’n braaipan en braai ui tot sag en deurskynend. Voeg spek by en braai tot gaar. Skep uit en hou eenkant. Verhit dieselfde braaipan en voeg res van olie by. Braai aartappelskyfies tot alkant net ligbruin. Skep aartappels in ’n 30 cm-tertbak. Geur met sout en peper en bedek met kleefplastiek. Steek ’n paar gaatjies in die plastiek en verhit die bak vir 4 minute in mikrogolfoond tot die aartappels sag is. Sprinkel ui-enspekmengsel oor die aartappels, gevolg deur die kaas. Gooi die eiermengsel bo-oor en bak in warm oond vir sowat 30 minute of tot gestol. Garneer met die gekapte pietersielie. Heerlik saam met slaai.

Analise
1 porsie – 180-200 g
Energie – 952 KJ
Koolhidrate – 16.6 g
Proteïen – 19.2 g
Totale Vet – 9.3 g
Versadigde vet – 3 g
Mono-onversadigde vet – 3 g
Poli-onversadigde vet – 0.6 g
Vesel – 1.3 g
Glukemiese lading (GL) – 7.6

Opmerkings:
Goeie laekilojoule- en lae-GL-opsie. Jy verwag dit gaan hoër wees met die aartappels, maar dis
die enigste koolhidraatbron in die resep (daar word nie baie meel gebruik nie).

  • Inge

    Ek het hierdie "Quiche Lorraine met ‘n verskil" uit die laaste Sarie gemaak, maar nee nee – die aartappel onderin is nie vir my (of my man) te goed nie….