Foto deur Donna Lewis

SARIE KOS AUG/SEP 2012

Foto deur Donna Lewis SARIE KOS AUG/SEP 2012

Diabeties

Ricotta-tamatie-en-aspersie-quiche

Resep deur Annerien Vermeulen
Asperesies is lentegroente. Die kleur van diéquiche-rooi, groen, wit-laat jou sommer lus voel vir die lewe ná die koue winter. Die quiche is ewe lekker koud en warm. Ek sit dit gewoonlik louwarm voor, met vars roket bo-op wat ek besprinkel met balsemasyn, olyfolie en sout en peper.
(8 – 10 porsies)

Kors

  • 125 ml koekmeelblom
  • 125 ml volkoringmeel (Nutty Wheat)
  • 1,5 ml bakpoeier
  • 1 ml sout
  • 20 g parmesaankaas, gerasper
  • 45 ml laevet-roomkaas
  • 45 g laevet-margarien
  • yswater

Plaas al die bestanddele behalwe die yswater in die voedselverwerker en meng tot glad. Voeg ’n paar druppels yswater by indien die mengsel te droog lyk en pols verder. Druk mengsel met jou  hande saam en plaas in ’n plastieksakkie. Verkoel in yskas vir 30 minute tot benodig. Rol uit op meelbestrooide oppervlak. Spuit ’n vlak 30 cm-quiche-pan of 25 x 20 cm-losboompan goed met kleefwerende kossproei en druk die deeg egalig daarin uit (die deeg kan ook met die vingerpunte in die quichepan gedruk word). Bak kors by 180 °C vir 8 minute. Verkoel vir 10 minute.

Vla

  • 250 g ricotta-kaas
  • 4 eiers
  • 2,5 ml sout
  • 1 ml varsgemaalde peper
  • knippie neutmuskaat
  • 10 ml pietersielie, gekap

Meng al die bestanddele, behalwe die pietersielie, in ’n voedselverwerker. Roer pietersielie by en laat eenkant staan tot benodig.

Vulsel

  • 5 ml olyfolie
  • 1 bossie vars groenaspersies, geblansjeer tot net sag
  • sout en peper
  • 10 ml olyfolie
  • 1 ui, gekap
  • 2,5 ml knoffel, gemaal
  • 200 g gerookte hoender, in blokkies gesny
  • 30 ml droë witwyn
  • 150 g baba-kersietamaties, in die helfte gesny
  • 25 ml parmesaankaas, gerasper

Verhit oond tot 180 °C. Verhit ’n riffelpan. Meng die aspersies met 5 ml olie en braai in die riffelpan tot dit mooi roostermerkies op het. Geur met sout en peper en hou eenkant. Braai ui in 10 ml olie tot deurskynend. Voeg die knoffel by, gevolg deur die hoender, en braai vir 1 minuut. Voeg wyn by en braai vir ongeveer 1 minuut. Laat afkoel. Skep uie-mengsel in kors en skep die ricotta-mengsel oor. Pak die tamaties (snykant na bo) en aspersies bo-op die ricotta-mengsel, gevolg deur die parmesaan. Bak vir 30 – 40 minute tot gestol.

Analise
1 porsie – 130 -150 g
Energie – 818 kJ
Koolhidrate – 14.8 g
Proteïen – 14.6 g
Totale Vet – 8.7 g
Versadigde vet – 3.3 g
Mono-onversadigde vet – 3.2 g
Poli-onversadigde vet – 1.1 g
Vesel – 2 g
Glukemiese lading (GL) – 6.7

Opmerkings:
Ook ‘n goeie laekilojoule- en lae-GL-quiche. Ideaal vir ’n ligte ete as die wintervetjies begin pla.