Foto deur Donna Lewis SARIE KOS DES 2012/JAN 2013

Gebak

Rooi fluweelkoek

Jy kan dié koek onversier tussen lae bakpapier vries
(1 groot koek)

  • 700 g (1 250 ml) glutenvrye koekmeel
  • 20 ml bakpoeier
  • 5 ml sout
  • 60 ml kakaopoeier
  • 2 x 30 ml-botteltjie rooi koskleursel
  • 260 ml kanola-olie
  • 10 ml vanieljegeursel
  • 630 g (750 ml) strooisuiker
  • 4 eiers
  • 700 ml karringmelk
  • 10 ml asyn
  • 10 ml koeksoda

Roomkaas-Versiersel

  • 250 g (270 ml) sagte botter
  • 500 g (960 ml) versiersuiker, gesif
  • 125 g laevet-roomkaas
  • 125 g aarbeie

Verhit oond tot 180 °C. Voer twee 30 cm-losboompanne uit met bakpapier en spuit goed met kleefwerende kossproei. Sif meel, bakpoeier, sout en kakaopoeier saam. Plaas kleursel, olie, vanielje, suiker, eiers en karringmelk in elektriese menger se bak. Klits op hoë spoed tot lig en skuimerig. Voeg droë bestanddele by en meng tot gladde beslag. Roer asyn en koeksoda by. Verdeel mengsel tussen twee panne en bak 25 – 30 minute of tot toetspen skoon uitkom. Laat effens afkoel in pan en keer uit op afkoelrak. Laat afkoel tot koud.

Roomkaas-Versiersel
Room botter in elektriese menger se bak tot lig en romerig. Voeg versiersuiker en roomkaas by. Meng tot gladde, romerige beslag. Gebruik skerp riffelmes en sny elke koeklaag in die breedte in twee helftes. Plaas een koekhelfte op opdienbord en smeer kwart van versiersel bo-oor. Herhaal met nog twee of drie koeklae, soos jy verkies. Rond af met roomkaasversiersel. Halveer aarbeie en pak op koek. Sit voor.