FOTO Micky Hoyle SARIE KOS APR/MEI 2014

Gebak

Sampioen-spinasie-en-gruyère-bondeltjies

’n Heerlike voorgereg of ligte middagete.
8 bondeltjies

• 30 ml botter
• 500 g portabellini-sampioene, in skywe gesny
• ½ ui, fyngekap
• 2 knoffelhuisies, fyngekap
• 200 g baba-spinasieblare
• sout en varsgemaalde swartpeper
• 150 g gruyère-kaas, fyngerasper
• 4 velle fillodeeg
• sowat 125 ml gesmelte botter

Smelt botter in ’n pan. Voeg sampioene, ui en knoffel by. Braai tot sampioene en ui gaar en sag is. Maak seker enige vloeistof wat dalk gevorm het, het afgekook. Haal pan af van hitte. Dompel spinasieblare in kookwater. Laat staan tot pap (wilted). Dreineer in ’n vergiettes en druk alle vloeistof uit spinasie. Kap dit grof en voeg by sampioene. Geur met sout en peper. Laat afkoel. Voeg gerasperde kaas by en meng goed deur. Verhit oond tot 180 °C. Plaas een vel fillodeeg op werkoppervlak en smeer gesmelte botter bo-op met ’n kwassie. Plaas nog ’n vel deeg bo-op die gesmeerde vel deeg. Sny die deeg in kwarte. Skep ’n groot lepel vulsel in middel van elke kwart. Vou deeg toe dat dit soos ’n bondeltjie lyk. Bind bondeltjie bo vas met tou en plaas op gesmeerde bakplaat. Verf bondeltjies met ’n bietjie gesmelte botter. Herhaal proses met ander twee velle deeg. Plaas in oond en bak 30 minute tot bros en goudbruin. Sit warm voor.