Gebak

Sampioen-vol-au-vent

(2 porsies)

  • 1 vel (400 g) blaardeeg
  • 1 eier, geklits
  • 30 ml botter
  • 30 ml koekmeel
  • 150 ml melk
  • 50 ml witwyn
  • 40 g parmesaan-kaas, gerasper
  • sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
  • 125 g portabellini-sampioene
  • 125 g baba-sampioene
  • 15 ml botter

Verhit jou oond tot 200 °C. Druk 4 groot sirkels uit die deeg. Plaas 2 van die sirkels op ’n goedgesmeerde bakplaat. Verf hulle met die geklitste eier. Druk met ’n kleiner uitdrukker kleiner sirkels bo in die ander twee deegsirkels (maar moenie dwarsdeur druk nie). Plaas dié deegsirkels bo-op en plaas in die warm oond. Bak vir so 30 minute tot mooi goudbruin en gaar. Haal die kleiner deegsirkel bo af en verwyder die meeste van die klam deeg binne-in die mandjie. Smelt die 30 ml botter in ’n kastrol en voeg die meel by. Roer tot ’n gladde pasta. Voeg die melk en witwyn geleidelik by en meng goed tot glad en sonder klonte. Hou aan roer tot dit verdik het. Voeg driekwart van die kaas by. Geur met sout en swartpeper. Hou die sous eenkant. Hou so 4 van die portabellini-sampioene heel en sny die res in kwarte. Hou die baba-sampioene heel. Sny klein kruisies bo-op die heel sampioene. Smelt die 15 ml botter en braai al die sampioene vir so 5 minute. Hou die heel sampioene eenkant en voeg die res by die sous. Geur weer indien nodig. Skep die sampioenmengsel in die deegmandjies en sprinkel die res van die kaas oor. Plaas terug in die oond en bak verder vir so 10 minute. Garneer met die heel sampioene.

Om te drink
Dieselfde witwyn as in die resep. ’n Chardonnay sal goed werk.