FOTO Lee Malan SARIE KOS APRIL/MEI 2013

Diabeties

Sitrus-en-klapperbiscotti

Resep deur Annerien Vermeulen
Die eerste biscotti is as duursame padkos vir o.a.Romeinse soldate gemaak. Dis ʼn bros koekie wat twee keer gebak word en dit word heerlik sag as jy dit in koffie doop. Die enigste bietjie vet in hierdie resep is in die klapper.

45 biscotti

• 170 g (250 ml) suikerplaasvervanger soos Sugalite
• 2 eiers
• 140 g (250 ml) koekmeel
• 125 ml volgraan-bruismeel
• 1 ml sout
• 30 ml hawersemels
• 250 ml klapper
• 10 ml gerasperde suurlemoenskil
• 10 ml gerasperde lemoenskil
• 10 ml gerasperde lemmetjieskil

Voer 2 bakplate uit met bakpapier en spuit met kleefwerende kossproei. Klits die suikerplaasvervanger en eiers saam tot lig en donsig. Sif die meel, bruismeel en sout saam en gooi die semels wat in die sif agterbly saam met die hawersemels terug in die meelmengsel. Roer klapper en skil by. Roer die meelmengsel in by die eiermengsel tot deeg vorm. Keer uit op ’n oppervlak wat liggies met meel gestrooi is en vorm 2 lang worse. Plaas op bakplaat, bedek met kleefplastiek en laat rus 2 – 3 uur of oornag in yskas. Verhit oond tot 180 °C. Bak die deegworse 30 minute of tot gaar. Laat heeltemal afkoel. Gebruik ’n tandjiesmes en sny in 1 cm-skywe. Verlaag oondtemperatuur tot 150 °C. Pak biscotti-skywe op ’n bakplaat en bak 15 minute. Draai biscotti om en bak nog 15 minute. Laat afkoel.