FOTO Micky Hoyle SARIE KOS DES 2012/JAN 2013

Gebak

Sjokolade-en-karameltertjies

As jy klein tertjies maak, soos op die foto, kan jy dit in vier verdeel, want dis baie ryk. Dit kan tot 3 dae in die yskas hou.

genoeg vir 4 tertjies
baktyd: sowat 25 minute

Deeg

• 200 g (360 ml) koekmeel
• 100 g (110 ml) botter
• 15 ml versiersuiker
• 1 eier, geklits

Plaas meel en botter in voedselverwerker. Meng tot dit soos broodkrummels lyk. Voeg versiersuiker en eier by en meng tot deeg vorm. Haal uit, maak toe met kleefplastiek en plaas in yskas vir sowat 30 minute. Verhit oond tot 180 °C. Rol deeg dun uit op meelbestrooide oppervlak. Voer vier gesmeerde 10 cm tertbakkies uit met deeg. Plaas ’n stuk bakpapier in elke bakkie en vul met droë bone. Plaas bakkies op bakplaat en plaas in oond. Bak vir 10 minute. Verwyder bone en papier en plaas terug in oond. Bak verder vir nog sowat 15 minute tot deeg gaar is. Haal uit en laat heeltemal afkoel voor jy dit met die karamel vul.

Karamelvulsel

• 1 blik (397 g) kondensmelk
• 30 ml goue stroop
• 60 g (65 ml) botter

Sit bestanddele in ’n kastrol. Plaas op lae hitte op stoof en meng. Bring tot kookpunt terwyl jy roer en laat kook 2-3 minute tot dit ’n mooi karamelkleur kry. Haal van hitte af en laat effe afkoel. Skep in tertbakkies. Laat heeltemal afkoel voor jy sjokoladebolaag opsit.

Sjokoladebolaag

• 180 g melksjokolade
• 100 g 70%-donkersjokolade
• 250 ml room

Breek sowat 30 g van die melksjokolade af. Hou eenkant. Breek res van sjokolade in stukke. Plaas in kastrol saam met room. Plaas op baie lae hitte. Roer nou en dan tot sjokolade gesmelt is en dit soos sjokoladesous lyk. Plaas die 30 g melksjokolade bo-op ’n bak met kookwater tot gesmelt. Verdeel die sjokoladesous bo-op die karamel in elke tertjie. Spuit rye op die sjokoladebolaag met die melksjokolade.Trek patrone bo-op met punt van ’n mes. Laat afkoel en plaas tertjies vir sowat 1 uur in yskas voor jy dit voorsit.