Foto deur Micky Hoyle SARIE KOS APR/MEI 2014

Gebak

Sjokolade melktert

Ek het die vulsel van die wenmelktert in SARIE KOS van Herfs 2009 (uitgawe 6) effens aangepas deur goeiegehaltedonkersjokolade by te voeg en die blaardeeg met fillodeeg te vervang. As jy van sjokolade hou, sal jy dol wees hieroor.

Genoeg vir 1 melktert
• 4 velle fillodeeg
• sowat 50 g (55 ml) botter, gesmelt
• 42 g (75 ml) koekmeel
• 25 g (50 ml) mielieblom
• 40 g (50 ml) suiker
• 125 ml melk
• 2 eiergele
• 20 g (25 ml) suiker
• 7 ml vanieljegeursel
• 2 eierwitte
• ½ ml kremetart
• 20 g (25 ml) suiker
• 550 ml melk
• 10 ml botter
• 200 g 70%-donkersjokolade, in stukke gebreek

Verhit oond tot 220 °C. Plaas een vel fillodeeg op ’n werkoppervlak en smeer met gesmelte botter. Plaas nog ’n vel boop en smeer weer met botter. Herhaal proses met laaste twee velle deeg. Plaas deeg in ’n gesmeerde oondpan of tertbak van 25 cm in deursnee. Die deeg moet bo die rand van die pan uitstaan. Sny die oortollige deeg af met ’n skêr. Plaas koekmeel, mielieblom, 40 g suiker en 125 ml melk in ’n middelslag-mengbak en meng tot glad. Hou eenkant. Klits eiergele, 20 g suiker en vanieljegeursel saam in ’n klein bakkie en hou eenkant. Plaas eierwitte, kremetart en laaste 20 g suiker in ’n mengbak. Hou eenkant. Plaas 550 ml melk, 10 ml botter en sjokolade in ’n kastrol en verhit tot sjokolade gesmelt het. Gooi die warm melksjokolade uit die kastrol in die mengbak met die meelmengsel. Meng goed en gooi terug in kastrol. Verhit oor lae hitte terwyl jy heeltyd roer. Wanneer mengsel dik is, gooi terug in mengbak en roer eiergeelmengsel by. Klits eierwitte styf en vou versigtig in mengsel. Gooi in uitgevoerde bak of pan. Plaas in warm oond. Bak 5 minute. Draai temperatuur af na 200 °C en plaas ’n stuk bakpapier of tinfoelie bo-op die tert om te keer dat die deeg brand. Bak nog 15 minute. Haal uit en laat afkoel. Sit voor by kamertemperatuur.