Foto deur Micky Hoyle

Foto deur Micky Hoyle

Diabeties

Sjokoladepaasbolletjies

Resep deur Annerien Vermeilen

(18 Bolletjies)

  • 500 ml koekmeel
  • 500 ml volkoringmeel
  • 60 ml strooisuiker
  • 2 x 10 g kitsgis
  • 7 ml sout
  • 5 ml gemengde speserye
  • 5 ml kaneel
  • 60 g laevet-margarien, in blokkies gesny
  • 180 ml sultanas of rosyne
  • 375 ml vetvrye melk, warm
  • 1 eier
  • 100 g 70%-donkersjokolade, in stukkies gebreek

Meelpasta vir kruise

  • 60 ml meel
  • 10 ml suikerplaasvervanger
  • 50 ml water

Glasuursel

  • 60 – 100 ml suikervrye appelkooskonfyt, verhit en deur ’n sif gedruk

Verhit oond tot 190 °C. Meng meel, strooisuiker, gis, sout en speserye. Vryf margarien in by mengsel tot dit soos droë broodkrummels lyk. Roer die rosyne of sultanas by. Meng melk met die eier en voeg by die mengsel. Meng tot ’n klewerige deeg vorm. Knie ongeveer 10 minute. Bedek en laat rys op ’n warm, droë plek tot dubbel in volume – ongeveer 30 minute. Knie deeg af op ’n meelbestrooide oppervlak. Verdeel deeg in 18 porsies en rol in bolletjies. Verdeel sjokolade en vou dit toe in die bolletjies. Plaas op ’n bakplaat wat óf met teflonpapier oorgetrek is óf met bakpapier wat met kleefwerende kossproei gespuit is. Laat die bolletjies rys vir ongeveer 20 minute.

Kruise

Maak intussen die meelpasta vir die kruise. Meng die meel, suikerplaasvervanger en water tot ’n pasta. Plaas in ’n deurskynende plastieksakkie. Sny ’n klein gaatjie in die punt van die sakkie. Spuit kruise met die pasta op die bolletjies sodra dit klaar gerys het. Plaas in voorbereide oond en bak vir ongeveer 20 minute tot gaar. Smeer glasuursel oor sodra bolletjies uit oond kom.
• Die bolletjies is net so lekker sonder die sjokolade.
• Gebruik altyd die beste gehalte sjokolade wat jy kan kry, bv. Lindt se 70%-donkersjokolade.

Sjokoladepaasbolletjies analise – (18 bolletjies – 1 bolletjie = 1 porsie)
Energie – 717 KJ
Koolhidrate – 30 g
Proteien – 6 g
Vet – 4 g
Vesadigde vet – 2 g
Mono-onversadigde vet – 1,3 g
Poli-oversadigde vet – 0,6 g
Cholesterol – 13 mg
Glukemiese lading (GL) – 17