Foto deur  Micky Hoyle

SARIE KOS AUG/SEP 2012

Foto deur Micky Hoyle SARIE KOS AUG/SEP 2012

Gebak

Sjokoladetertjies met geklopte room

(4 x 10 cm-tertjies, genoeg vir 12)

Baktyd: 30 minute

Sjokoladedeeg
Maak seker jou botter is by kamertemperatuur, want dan is dit soveel makliker om botter en suiker saam te room.

  • 150 g (165 ml) ongesoute botter
  • 120 g (230 ml) versiersuiker
  • 200 g (360 ml) koekmeel
  • 50 g (125 ml) kakao
  • 1 eier
  • 1 eiergeel

Plaas botter in mengbak van elektriese menger. Voeg versiersuiker by en room saam tot glad. Sif meel en kakao saam en voeg by bottermengsel. Dit sal nou soos broodkrummels lyk. Voeg eiers by en meng tot deeg in ’n bal bymekaarkom. Haal deeg uit mengbak en maak toe met kleefplastiek. Laat rus in yskas vir sowat 30 minute. Plaas oondrak in die middel van die oond en verhit oond tot 180 °C. Rol deeg op ’n meelbestrooide oppervlak uit. Dis nogal ’n sagte deeg en kan maklik aan die werkvlak vassit. Voer gesmeerde 4 x 10 cm-pannetjies met deeg uit en prik die bodem met ’n vurk. Plaas bakpapier bo-op deeg en vul met droëbone. Plaas pannetjies op ’n bakplaat en dan in oond. Bak vir 15 minute. Haal uit en verwyder papier en boontjies. Laat afkoel en maak intussen die vulsel.

Vulsel

  • 2 eiers
  • 2 eiergele
  • 60 ml suiker
  • 200 g 70%-donkersjokolade, in stukke gebreek
  • 100 g (110 ml) ongesoute botter, in blokkies gesny

Verhoog oondtemperatuur na 190 °C. Klits eiers in elektriese menger. Voeg suiker bietjie vir bietjie by en klits goed tot lig en romerig. Bring ’n kastrol met water tot kookpunt. Plaas sjokolade en botter in bak wat oor die kastrol sal pas. Haal die kastrol van hitte af en plaas die bak bo-op. Laat staan tot sjokolade en botter gesmelt is. Jy kan so af en toe roer. Voeg gesmelte sjokolademengsel versigtig by geklitste eiermengsel. Verdeel vulsel tussen tertjies. Bak vir 15 minute. Haal uit en laat tertjies heeltemal in die pannetjies afkoel.

Bo-op

  • 250 ml room
  • kakao om oor te sif

Klits room styf en skep bo-op tertjies. Sif ’n klein bietjie kakao oor. Sit voor saam met ’n eetbare blom.