Foto deur  Donna Lewis
SARIE KOS Augustus/September 2014

Foto deur Donna Lewis SARIE KOS Augustus/September 2014

Diabeties

Spinasie-en-parmesaan-soufflé

Moenie skrik as die soufflé platval nie, dit smaak steeds lekker!

Genoeg vir 6
• 200 g baba-spinasie
• 135 ml kanola-olie
• 2 knoffelhuisies, fyngekap
• 125 g (220 ml) koekmeel
• 1 liter laevet-melk
• 50 g parmesaankaas, fyngerasper
• sout en varsgemaalde swartpeper
• 5 eiers, geskei

Bring ’n pot met water tot kookpunt. Gooi spinasie in kookwater. Dreineer ná ’n minuut. Kap sagte spinasie fyn in voedselverwerker en hou eenkant. Verhit olie oor matige hitte in groot pot. Voeg knoffel by en braai 1 minuut. Roer meel by. Voeg melk op een slag by en klits goed tot alles gemeng en die klonte opgelos is. Laat prut oor lae hitte en klits stadig terwyl sous verdik, sowat 3 – 5 minute. Verwyder van hitte en roer kaas by tot gesmelt. Voeg spinasie by en meng goed. Geur goed met sout en swartpeper. Laat af-koel tot kamer-temperatuur. Verhit oond tot 180 °C. Voeg eiergele by kaasmengsel en roer tot glad. Klits eierwitte tot sagte punte vorm en vou versigtig by kaasmengsel in. Verdeel mengsel tussen 8 oondvaste koppies met volume van 250 ml elk. Bak sowat 45 minute of tot goudbruin en gestol. Sit warm voor met slaai.

Ontleding per porsie – kilojoules 1 944; proteïen 16,8 g; koolhidrate 24,4 g; vet 33 g

Mariza sê Sit voor met ’n groenslaai en oondgebraaide hoenderborsies/vis