Foto deur Donna Lewis
SARIE KOS DES 13/JAN 14

Foto deur Donna Lewis SARIE KOS DES 13/JAN 14

Bykos

Spinasie-en-ricotta-quiche in lepels

Ricotta-kaas bevat min vet. Voeg die goeie eienskappe van spinasie by, en dis die perfekte gesonde happie saam met die gemmerbier.
Genoeg Vir 18

• 260 g (500 ml) glutenvrye koekmeel, plus ekstra vir uitrol
• 155 g (170 ml) botter
• 45 ml yswater
• 18 groot dessertlepels met ekstra diep holtes
• 30 ml olyfolie
• 1 ui, fyngekap
• 2 knoffelhuisies, fyngekap
• 300 g spinasie, gesnipper
• 220 g ricotta-kaas
• 1 brandrissie, fyngekap
• 5 ml fyn neutmuskaat
• sout en varsgemaalde swartpeper
• 2 eiers, geklits
• 125 ml melk

Verhit oond tot 180 °C. Plaas meel en botter in voedselverwerker en pols by hoë spoed tot broodkrummel-tekstuur. Gooi yswater by terwyl menger loop, tot mengsel in een bal saamkom. Gooi ekstra yswater by indien nodig. Sprinkel meel op werkoppervlak en rol deeg sowat 3 mm dik uit. Spuit lepels goed met kleefwerende kossproei en voer holtes van elke lepel uit met deeg. Plaas op bakplaat sodat die handvatsel van die lepel op die rand van die bakplaat rus en die lepel se holte gelyk lê. Verhit olyfolie in groot braaipan. Braai ui en knoffel tot begin verkleur. Voeg spinasie by en braai nog 5 minute. Verwyder van hitte en roer ricotta, rissie en neutmuskaat by. Geur goed met sout en peper. Verdeel mengsel tussen die uitgevoerde lepels – as daar vulsel oor is, kan jy dit in die yskas hou as jy later nog wil bak. Klits eiers en melk saam. Gooi op vulsel in elke lepel. Bak 15 – 20 minute of tot vulsel gestol het. Laat effens afkoel en sit voor.