sk0409pasteie01
Gebak

Steak-en-niertjie-pasteie

(6 porsies)

  • 1,4 kg steak en niertjies (jy koop pakke by die supermark met albei)
  • sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
  • 40 ml olyfolie
  • 1 ui, fyngekap
  • 4 wortels, in klein blokkies gesny
  • 2 knoffelhuisies, fyngekap
  • 1 selderystok, in skywe gesny
  • 5 ml gemengde droë kruie
  • 2 lourierblare
  • 150 ml beesvleis-aftreksel
  • 100 ml water
  • 15 ml mielieblom, gemeng met water tot ’n pasta
  • 1 vel blaardeeg (400 g)
  • 1 eier, geklits

Verhit oond tot 180 °C. Geur vleis met sout en swartpeper. Verhit die olie in ’n kastrol en braai die vleis (nie alles op een slag nie) tot bruin. Voeg ui, wortels, knoffel en seldery by. Braai vir sowat 10 minute tot sag en deurskynend. Geur met sout, swartpeper, kruie en lourierblare. Voeg aftreksel by en plaas in warm oond vir 1 uur tot die vleis sag is. Haal uit oond en voeg die 100 ml water by. Bring die vulsel tot kookpunt en verdik dit met die mielieblom-mengsel. Skep vulsel in bekertjies (of ’n bak). Laat afkoel. Sny ’n dun strook uit die deeg en maak ’n rand om die bekers of bak. Smeer die strook met geklitste eier. Bedek vulsel met die deeg. Sny kepe bo-in sodat stoom kan ontsnap. Versier die pasteie met orige deegstukkies en smeer die deeg met die geklitste eier.

Om te drink
Definitief ’n rooie, en beslis shiraz. Probeer Simonsig se Merindol Syrah as jy lus voel vir ’n bederfwyn, of as jy iets goedkopers verkies, Swartland-wynkelder se shiraz.