Foto deur Micky Hoyle
SARIE KOS JUN/JUL 2012

Foto deur Micky Hoyle SARIE KOS JUN/JUL 2012

Gebak

Steak-en-Parmesaankaaspasteie

Maak die pasteie voor jy vir die naweek weggaan, en maak dit dan net weer warm in die oond of mikrogolf.

(6 pasteie)

  • 40 ml olyfolie
  • 600 g rib-steak (rib-eye), in klein blokkies gesny
  • 1 ui, fyngekap
  • 1 selderystingel, in klein blokkies gesny
  • 2 wortels, in klein blokkies gesny
  • 2 knoffelhuisies, fyngekap
  • 2 aartappels, geskil en in blokkies gesny
  • 500 ml beesvleisaftreksel
  • sout en varsgemaalde swartpeper
  • 5 ml mielieblom, opsioneel
  • sap van halwe suurlemoen
  • 80 g parmesaankaas, gerasper
  • 1 vel (400 g) broskorsdeeg
  • 1 vel (400 g) blaardeeg
  • 1 eier, geklits

Verhit olyfolie in groot kastrol. Voeg steakblokkies by en braai tot bruin. Haal vleis uit en hou eenkant. Braai ui, seldery, wortels en knoffel in dieselfde kastrol tot sag. Voeg vleis en al die sap wat uitgeloop het by groente. Voeg aartappels en aftreksel by en geur met sout en peper. Maak kastrol toe met ’n deksel en laat prut tot vleis sag is – sowat 1 – 1½ uur. As die sous te dun is, meng mielieblom met ’n bietjie water en voeg by. Roer tot verdik. Skep pasteivulsel in skoon bak en laat heeltemal afkoel. Voeg dan suurlemoensap en gerasperde kaas by. Meng goed deur. Verhit oond tot 200 °C. Rol broskorsdeeg baie dun uit op meelbestrooide oppervlak. Sny ses groot sirkels uit wat in groot muffinpanne met volume van 250 ml sal pas. Voer panne uit met broskorsdeeg. Skep koue vulsel in. Sny ses sirkels van sowat 9 cm in deursnee uit blaardeeg. Sny met ’n baie skerp messie lang lyne bo-op. Herhaal in die ander rigting om mooi blokkiepatroon te kry. Plaas sirkels bo-op vulsel en verseël goed. Smeer met geklitste eier en bak sowat 45 – 50 minute in warm oond. Sit warm voor.

Wenk
Ek gebruik twee soorte deeg in die kors van die pasteie omdat broskorsdeeg beste vorm behou as blaardeeg.