6 uur tuis, eet half 7

Steak met gebakte eier

20 minute – 4 porsies

  • 2 knoffelhuisies, fyngedruk
  • sap van 1 suurlemoen
  • 40 ml olyfolie
  • 4 porterhouse-steaks
  • sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
  • 2 groot uie, gehalveer en in skywe gesny
  • 200 ml rooiwyn
  • 4 eiers
  • 30 ml botter

Meng die knoffel, suurlemoensap en olyfolie. Smeer die steaks goed met die mengsel en geur met sout en swartpeper. Verhit ’n pan tot die rook daaruit kom. Braai die steaks vir so 5 minute en plaas die uiskywe rondom die steaks in die pan. Braai die uie saam vir 2 minute. Voeg die rooiwyn by en braai vir nog 2 minute. Haal die steaks uit en hou eenkant warm. Laat die uie verder braai in die rooiwyn terwyl jy die eiers bak in ’n pan met gesmelte botter. Skep die uie op ’n bord en plaas die steaks bo-op. Sit voor met die gebakte eiers.