FOTO: Donna Lewis

FOTO: Donna Lewis

Bykos

Tamatie-basiliekruid-en-spekbrood

Min mense sê maklik nee vir vars brood uit die oond!

genoeg vir 1 groot brood

  • 45 ml heuning
  • 100 ml lou water
  • 250 ml karringmelk
  • 60 ml kanola-olie
  • 1 x 10 g-sakkie
  • kitsgis
  • 500 g (890 ml) koekmeel
  • 10 g sout
  • 250 g-pakkie spek, fyngesny
  • 30 g basiliekruid (grofgekap)
  • 250 g gemengde kersietamaties van jou keuse

Gooi heuning, water, karringmelk en olie in ’n elektriese mengbak. Voeg res van die bestanddele by, behalwe die tamaties, en meng tot stywe, kniebare deeg. Knie vir 5 – 8 minute of tot die deeg glad is. Plaas deeg in skoon bak wat met olie gesmeer is. Bedek met kleefplastiek en laat rys 30 – 40 minute op warm plek tot dubbel in volume. Verdeel deeg in 12 porsies en rol in ronde balle met handpalms.

Spuit ’n broodpan van 20 x 10 cm met kleefwerende kossproei. Pak rolletjies styf teen mekaar in pan en pak kersietamaties bo-op. Laat weer rys op ’n warm plek tot dubbel die volume. Verhit intussen die oond tot 180 °C. Bak vir 25 – 30 minute of tot brood goudbruin en gaar is.